News

Rekordgetal poste vir werksoekers

Rekordgetal poste vir werksoekers

 

   

 

 

Solidariteit het vandag bekend gemaak dat ʼn rekordgetal poste en CV’s op sy werksoekportaal, Werknet, gelaai is. Dit volg te midde van ʼn definitiewe styging in werksverliese wat oor die afgelope jaar waargeneem is en die ekonomie wat al hoe meer noustrop trek.

 

“Werknet is geskep om werksoek en die advertering van poste so maklik en toeganklik as moontlik te maak. En ons doen dit in Afrikaans,” sê dr. Juran van den Heever, hoof van Solidariteit Jeug en loopbaanoontwikkeling. “Die platform het reeds almal se verwagtinge oortref. Daar is ʼn hele paar beskikbare poste in verskeie sektore wat veral op sosiale media versprei word. Verskeie gemeenskappe het ook ingespring om te help om beskikbare poste onder geskikte kandidate se aandag te bring.”

 

Volgens Van der Heever het Covid-19 ʼn pad van verwoesting gesaai en het dit talle huishoudings geruk deur die werkloosheid en verlies aan inkomste wat dit meegebring het. Werknet het egter tydens die pandemie ʼn baken van hoop geword deurdat dié platform die Afrikaanse gemeenskap nog meer rondom werksgeleenthede organiseer en bystaan wat werk betref.

 
 

Van den Heever wys verder daarop dat dit veral vir kleiner ondernemings belangrik is om hul poste op Werknet te adverteer. ʼn Hele paar werksoekers het reeds hul CV’s daar opgelaai en hulle hou poste dop om daarvoor te kan aansoek doen. Op hierdie wyse kom werkskeppers en werksoekers bymekaar uit en kan die gemeenskap mekaar help. Werknet brei eersdaags verder uit om ook voorsiening te maak vir skaduwerkgeleenthede vir matrikulante, vakansiewerk vir studente, internskappe en klerkskappe, asook gemeenskapswerkgeleenthede by die Solidariteit Helpende Hand. Dit gaan ook ʼn diensgids bied waar ʼn persoon met die oog op ekstra inkomste sy eie diens kan oplaai. “Werk is die belangrikste komponent in enige mens se lewe. Sonder goeie werk kan ʼn mens uit die aard van die saak nie vir jou gesin sorg of vir die toekoms beplan nie. Daarom vervul Werknet ʼn kardinale rol onder die Afrikaner- en Afrikaanse gemeenskap deur werk te fasiliteer. As gemeenskap kan ons mekaar in hierdie netwerk van werk help,” sluit Van den Heever af.

 
 
https://vaalweekblad.com/102193/rekordgetal-poste-vir-werksoekers/
 
 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button