
“As jy jouself en jou gesin kan beskerm, kan jy ook jou bure beskerm. As jy jou bure beskerm, kan julle saam julle gemeenskap beskerm.”
Die Solidariteit Beweging het by ʼn mediakonferensie sy ondersteuners aangemoedig om te midde van die onluste wat sekere dele van die land teister, hul weerbaarheid op te skerp, kalm te bly en by hul plaaslike buurtwag aan te sluit. Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die faksiegevegte in die ANC wat aanvanklik tot die plundery aanleiding gegee, ʼn platform gebied vir kriminele elemente om die situasie te misbruik om te steel en te buit.
Buys het ʼn beroep op wetstoepassers gedoen om die orde te herstel en die skuldiges aan te keer. Volgens Buys moet die publiek egter nie hul veiligheid en dié van hul gesinne en gemeenskappe net aan die SAPD oorlaat nie want hulle kan self baie doen om hul eie weerbaarheid binne die raamwerk van die wet te verskerp. “As jy jouself en jou gesin kan beskerm, kan jy ook jou bure beskerm. As jy jou bure beskerm, kan julle saam julle gemeenskap beskerm,” het Buys bygevoeg.
Buys het mense aangemoedig om by een van AfriForum se buurtwagte wat landswyd gevestig is, of by ander gemeenskapsveiligheidstrukture aan te sluit. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê georganiseerde gemeenskappe hoef nie in vrees te verval nie en kan kalm bly in die wete dat hul veiligheid in hul eie hande is. Dit is volgens Kriel nie ʼn vreemde verskynsel dat gemeenskappe self verantwoordelikheid vir hulle eie veiligheid aanvaar nie, soos wat verskeie gemeenskappe in KwaZulu-Natal die afgelope paar dae gewys het. Afrikaners het ook in die geskiedenis telkens self verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid aanvaar.
https://vaalweekblad.com/101249/onruste-bly-kalm-en-organiseer-se-solidariteit/




