Polisie hou ‘n wakende oog na bande brand, winkel geplunder
Polisie hou 'n wakende oog na bande brand, winkel geplunder
Met gevalle van plundery, oproer en brandstigting wat die afgelope week wyd voorgekom het, is daar Sondagaand ook bande in die Tumahole-woonbuurt gebrand en gepoog om die Vredefort-pad en R59 net buite Parys te blokkeer.
Maandagoggend was die situasie egter kalm, maar is daar Maandagaand ’n winkel in die Tumahole-woonbuurt geplunder. Verskerpte polisie patrollies kon egter nog pogings om te plunder afweer en is die situasie tans kalm.
In Sasolburg is Maandagaand ook ’n voorval gerapporteer waar ’n buitelander se winkel geplunder is.
Die polisie se openbare orde eenheid in die Vrystaat hou ’n wakende oog. Sommige besigheidseienaars in die Vaaldriehoek het Maandag hul besighede se deure as voorsorgmaatreël gesluit en was sommige besighede Dinsdag steeds in Vereeniging, Sasolburg en Vanderbijlpark gesluit uit vrees vir plundery.
Paaie in en om Parys is egter oop gewees met die plasing van hierdie berig.
Hou asseblief in gedagte dat mense tans allerlei boodskappe en video’s op sosiale media oor voorvalle van geweld versprei, en areas wat vermy moet word. Baie van hierdie boodskappe en video’s is nie geverifieerde inligting nie. Maak seker jy kyk eerder na betroubare nuusbronne vir inligting, weerhou jou daarvan om sommer net boodskappe aan te stuur wat jy van allerlei bronne kry.





