Venterskroon: Die Koepel se geskiedkundige juweel

     ‘Sweeh Home’ ‘n baie gewilde toeriste besoekpunt in die Vredefort Koepel, en een van die eerste huise wat in die Koepel gebou is. Foto: Christo Meyer.   As jy al ’n draai gery het in die Vredefort Koepel met sy ongerepte en besonderse natuurskoon, het jy bes moontlik ook al ‘n draai gemaak …

 

 

As jy al ’n draai gery het in die Vredefort Koepel met sy ongerepte en besonderse natuurskoon, het jy bes moontlik ook al ‘n draai gemaak by die geskiedkundige myndorpie, Venterskroon. Venterskroon is geoormerk as die enigste ontwikkelingsnode in die kern van die Vredefort Koepel wêrelderfenisterrein.

 

Die dorpie is destyds deur Pieter Albert Venter gestig nadat goud in die 1800’s in dié area ontdek is. Die dorp is uitgelê met slegs twee strate en erwe is uitgesit en verkoop. Die hotel, winkel, kerk, dorpsraad kantore, huis vir die meester (skoolhoof) en mynbou kommissaris is gebou.

 

Daar was ook ’n skool en tronk gebou met kwartiere vir die vredesbeamptes. Later was daar ook ’n polisiestasie met beamptes op die dorp. Die winkel het gedien as algemene handelaar wat ook gehandel het in tabak en katoen wat in die vallei geproduseer was. Daar was selfs ’n poskantoor in die winkel. Die dorp was onder die beheer van die mynbou kommissaris en het onder die Klerksdorp-distrik geresorteer. Daar het volgens oorlewering ’n totaal van 1 500 myners in tente gebly en daar was drie mynbou maatskappye wat in die omgewing gemyn het. Nadat goud van ’n beter gehalte aan die Witwatersrand ontdek is, het die meeste van die myners die dorp verlaat en in die nuwe myne aan die rand gaan werk. Mynbou aktiwiteite het tot in die 1920’s voortgegaan.

Die dorp het intussen sy status as dorp verloor en is tans ’n nedersetting wat onder Potchefstroom se beheer is.
 
Wanneer inperkingsregulasies weer verslap sou word, is die hotel beslis ‘n besoek werd  vir sy lekker etes en verblyf wat aan besoekers gebied word, en daar is ook verskeie selfsorg akkommodasie fasiliteite wat aangebied word.
 
’n Inisiatief is onlangs deur Parys Info begin om die Venterskroon-vallei en al die produkeienaars te bemark aan besoekers in die area. Naas ‘n brosjure, is daar ook ‘n kaart van Venterskroon by Parys Info in Waterstraat beskikbaar.
 
Vir toeriste wat meer van die omgewing en dorpie te wete wil kom is daar ’n inligtinsentrum in Venterskroon waar inligting en ’n dokumentêre video van die Koepel gesien kan word. Toeristegidse kan besoekers deur die area vergesel en gee die nodige inligting om ’n besoek hier in die rustige, landelike omgewing met die Vaalrivier wat hierdeur vloei, onvergeetlik te maak. Skakel gerus Parys Info as jy meer inligting oor Venterskroon wil hê by (056) 811 4000. 
 
* Bron – Moments in History of the Transvaal Section of the Vredefort Dome from a Philatelic Perspective deur prof. Okkie de Jager, NWU Potchefstroom-kampus asook Christo Meyer
 

En as jy nog nie die ongelooflike natuurskoon van die Vredefort Koepel gesien het nie, is hierdie net ‘n voorsmakie daarvan. Foto’s met erkenning aan Christo Meyer  

Related Articles

Back to top button