News

Sport in Parys verloor twee groot staatmakers

Sport in Parys verloor twee groot staatmakers

   

 

Vir die afgelope vier jaar was die egpaar, Jacques en Nadia Botes. twee bekende gesigte langs die sportvelde in Parys, maar eersdaags kruis hul paaie weer met hul alma mater waar Jacques die pos as Direkteur van Sport by Potchefstroom Gimnasium aanvaar het. Die einste skool waar Jacques en Nadia in 1998 op die skoolbanke gesit het, en waar albei in die koshuis was. Dit was hier waar hul skoolliefde begin het, en uiteindelik gelei het na die kansel. Dit is ook hier waar hulle weer hul sirkel aan die begin van die derde kwartaal sal voltooi wanneer hulle hul in Potchefstroom sal vestig.

“Dit is hartseer vir ons om Parys te groet,” gesels Jacques en Nadia, maar terselfdertyd is hulle baie opgewonde oor wat die pad vorentoe inhou. Om te kan terugploeg by die skool waar Jacques 23 jaar gelede op die skoolrugbyveld langs die Mooirivier uitgedraf het, en die voormalige Haai-speler en kranige losvoorspeler sy kennis met jong spelers sal deel. Hier waar Nadia se atletiekafrigter van destyds steeds woeker met atlete se talent, en Jacques se voormalige rugby-afrigter saam met hom spelers van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus sal afrig.

 

Vir beide Jacques en Nadia is sport deel van hul leefwyse – ‘n passie. Maar dit is veral om met kinders op die sportveld te kan werk, wat hul groot hartsliefde is. Jacques het sportbestuur studeer, en sal naas sy beheer en betrokkenheid by sport by Potchefstroom Gimnasium, ook betrokke wees by die skool se seunskoshuis waar hy sal fokus op karakterontwikkeling en mentorskap. In die vier jaar wat die gesin in Parys gevestig was, was Jacques bestuurder van die Parys Golf & Country Estate, en ook deeltyds betrokke by rugby-afrigting by Hoërskool Parys. Daarbenewens het hy ook privaat rugby afgerig vir laerskoolspelers met die Red Cap-program.

 

Nadia op haar beurt het besondere welslae behaal met die FIT (Fun Innovative Training) kondisionerings oefenprogram vir kinders. Omdat beide so betrokke was in Parys by sportafrigting gesels hulle opgewonde oor die ongelooflike talent wat hulle in Parys gesien het. “Spesifiek op die atletiekveld is daar baie groot pontensiaal,” sê Nadia. Sy het groot lof vir die gemeenskapsbetrokkenheid en sê dat “Parys ‘n plek is waar kinders se talent en potensiaal baie goed kan ontwikkel word want – ‘die paaie is kort en die dae lank’.  

acques Botes, voormalige Haai-speler, saam met van die laerskool rugbyspelers wat hy as deel van die Red Cap-program afgerig het. Foto: Verskaf

Nadia is in Parys gebore en het hier grootgeword. Dit was eers aan die einde van haar hoërskoolloopbaan dat sy ‘n leerder van Potchefstroom Gimnasium geword het. Met haar ouers, dr. Piet en Marilyn Swartz, wat in Parys gevestig is, sal Parys en sy mense Jacques en Nadia en hul gesin nog gereeld sien. Maar daar is geen twyfel dat Parys twee groot staatmakers langs die sportveld verloor. Waar hul vier jaar gelede toe hulle hier ingetrek het nog nie presies geweet het wat hulle hier sou doen nie, is die nalatenskap van die vier jaar hier, duidelik te sien in dit wat hulle in soveel kinders se lewens belê het. Parys wens die egpaar alle voorspoed toe vir hierdie nuwe loopbaanuitdaging.    

 

Related Articles

Back to top button