
Ngwathe Concerned Youth, ondersteun deur verskeie politieke jeugorganisasies soos SASCO, COSAS, YCLSA en SANCO in die Fezile Dabi-streek, asook verskeie nie-winsgewende jeugorganisasies binne die Ngwathe grense, sal op Donderdag 24 Junie, vanaf 10:00 aan ‘n vreedsame protesoptrede by die Ngwathe munisipale kantore deelneem.

‘n Memorandum sal oorhandig word waarin hulle eis vir die betaling van die uitstaande studente registrasiegelde, werkskepping vir die jeug, ekonomiese ontwikkeling van die jeug, die daarstel van ‘n rehabilitasiesentrum, sport, kuns en kultuur deelname-geleenthede, dat die begroting vir die ontwikkeling van die jeug daarvoor aangewend sal word, beter voorsiening van basiese munisipale dienste en die daarstel van ‘n jeugbeleid en jeugdirektoraat.




