Talentvolle Mizelle skitter by SA en Wêreld dans-kragmeting
Talentvolle Mizelle skitter by SA en Wêreld dans-kragmeting


Mizelle Terre’Blanche se veelsydige talent op die dansvloer het vir ‘n hele rits uitsonderlike prestasies gesorg wat sy die afgelope tyd nie net in SA-kompetisies behaal het nie, maar ook teen van die wêreld se beste.
Dié graad 11-leerder verwerf ‘n tweede plek vir Jazz by die SA Dance Talent Virtuele kragmeting, en by die SA Dance School Championships Live, 90% Ultimate Gold vir Contemp, 87% High Gold vir Show Dance, en 86% High Gold in die ope-kategorie.
By die World Dance Challenge Live behaal Mizelle ‘n derde plek met 87% vir Contemp, en ‘n tweede plek met 89% vir Jazz. By die Dance World Cup Live kragmeting het Mizelle vir Contemp met ‘n tweede plek gespog met 85,8%, ‘n vierde plek vir Jazz met 88,9%, en ‘n vyfde plek vir Lyrical met 87,9%. Mizelle is deur Elrine Kotze bygestaan met die choreografie vir dié kompetisie-deelnames. Maar dit is nie hier waar Mizelle se uitsonderlike prestasies eindig nie.

Sy het ook in die Preliminary AIDT Moderne danseksamen ‘n onderskeiding met ‘n persentasie van 94% behaal, en haar Chechetti Advance 1 balleteksamen met 91% geslaag. Laasgenoemde twee prestasies is onder leiding van Jackie Campher behaal.
Mizelle is ‘n leerder van Hoërskool Ferdinand Postma en die dogter van Muller en Gisella Terre’Blanche van Parys.




