NewsNews

Fondse vir opgraderings aan stadion kom uit omstrede trustfonds

Fondse vir opgraderings aan stadion kom uit omstrede trustfonds

Die omstrede trustfonds wat glo onwettig deur amptenare van die  munisipaliteit gebruik is, is ook gebruik om die miljoene rand te huisves wat die Noordwes-Universiteit vir die opgradering van die Kenneth McArthur-stadion aan die J.B. Marks munisipaliteit betaal het.

. So sê Chris Hattingh, DA-raadslid van die munisipaliteit nadat dit aan hom bekend gemaak is.

Die vorige burgemeester, Kgotso Khumalo, en ander munisipale amptenare, Cyril Henry en Mohau Shuping, word tans vervolg vir diefstal en bedrog oor geld wat uit dié fonds onttrek is. Die fonds word deur ‘n plaaslike prokureur geadministreer. Volgens Hattingh was die trustfonds nie wettig nie omdat daar nie by die munisipale tesourie toestemming verkry is om die fonds te skep nie. Die rekening is ook nie  aan die ouditeur-generaal verklaar nie. Van die geld wat ook in die trustfonds betaal is, was afkomstig van ‘n huurooreenkoms met ‘n plaaslike mynmaatskappy.

Volgens Jean Verster, president van Atletiek Sentraal Noordwes, het die universiteit R6 miljoen aan die J.B. Marks munisipaliteit oorbetaal. Hy kon nie bevestig in watter rekening dit inbetaal is nie. Die woordvoerder van die universiteit wou ook nie kommentaar lewer oor die bedrag of die rekening waarin die universiteit die fondse aan die munisipaliteit oorbetaal het nie. “Gesien teen die agtergrond van u navraag wat deel uitmaak van die huidige strafregtelike ondersoek en hangende hofsaak, kan die NWU in hierdie stadium geen kommentaar lewer op enige besonderhede rakende die oorspronklike kontrak nie, aangesien die hofsaak nog nie afgehandel is nie. Daar kan wel genoem word dat die universiteit maatreëls getref het om ons belang in die saak sowel as die geld wat reeds belê is, te beskerm,” sê Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU.

Verster sê die ooreenkoms wat in 2014 met die munisipaliteit gesluit is, is vir die naamsverandering en opgradering van die stadion. Die Puk Kenneth McArthur-stadion is na die NWU Kenneth McArthur verander, waarvoor die universiteit R6 miljoen betaal het. Daar is verder ooreengekom dat die munisipaliteit dié fondse vir die opgradering van die stadion sal gebruik.

Verster sê verder dat hulle destyds ‘n komitee gestig het met verteenwoordigers van die munisipaliteit, Noordwes Atletiek en die universiteit om die fondse vir die opgradering te bestuur. “Ons het ‘n baie goeie samewerkingsooreenkoms tussen die munisipaliteit, die universiteit en Noordwes Sentraal Atletiek. Sover het ons die fondse baie goed aangewend om die rioolsisteem van die stadion oor te doen, sekuriteitsheinings op te rig, ‘n nuwe klanksisteem aan te lê, ‘n sekuriteit kamerastelsel te installeer, ‘n tartanbaan te bou asook vir die 24-uur sekuriteit wat tans gebruik word. Daar is nog fondse beskikbaar vir die agt badkamers asook die kantore wat opgradeer moet word,” sê Verster.

 

 

 

Related Articles

Back to top button