NewsNews

Ngwathe minder mors, meer verdien

Jou voorstelle gevra

Tydens die begrotingsdebat verlede maand het Ngwathe se stadsraad eenparig besluit hy gaan in die toekoms minder probeer mors, en sy onbenutte bates meer produktief aanwend. Dit was nadat sowel die burgemeester, Joey Mochela, as DA-raadslid, Arnold Schoonwinkel, verwys het na die enorme finansiële druk wat die munisipaliteit tans ervaar.

Schoonwinkel, Ngwathe se DA-segsman oor munisipale finansies, het in die debat gevra dat die raad sy bestaande finansiële taakspan vra om te soek na kostebesparings sonder om diensgehalte te verswak.

“Ngwathe moet maniere vind om verder te kom met sy geld, veral deur vrugtelose en onproduktiewe uitgawes te verminder en korrupsie hok te slaan.” Hy het ook planne gevra om ‘n inkomste te verdien uit Ngwathe se talle onbenutte bates, soos die Mimosa Tuine, Heilbron se ontspanningsoord en verhuurbare munisipale behuising en persele. “Ons moet kenners vra vir blink idees, en veral plaaslike sakelui ook,” het Schoonwinkel bygevoeg. Die voorstel is eenparig aanvaar.

“Ons gaan die voorstelle bymekaar kry en saamvoeg met ons eie,” sê DA-koukusleier, Carina Serfontein.   Sy hoop dat DA-raadslede binne weke spesifieke planne aan die taakspan sal kan voorlê gebaseer op hul eie voorstelle uit die verlede en nuwe idees van inwoners.

Related Articles

Back to top button