NewsNews

Mensehandelsaak: Polisiemanne op borgtog van R10 000 elk vrygelaat, staat se saak ‘n knou toegedien

Mensehandelsaak: Polisiemanne op borgtog van R10 000 elk vrygelaat, staat se saak ‘n knou toegedien

 

 

Twee polisiemanne wat by ‘n mensehandelsaak betrek word is Woensdagmiddag in die streekhof in Vereeniging op borgtog van R10 000 elk vrygelaat en die staat se saak is skynbaar ‘n ernstige knou toegedien nadat dit aan die lig gekom het dat die klaer/slagoffer ‘n geskiedenis het van verkragtingsake oopmaak waarvan niks kom nie.

 

Landdros Retha Willemse het borgtog aan die stasiekommissaris van die Sebokeng-polisiestasie, brig. Selikoe Esau Mokoena (57), en ‘n ondersoeker van die Sedibeng-polisie se eenheid vir gesinsgeweld seksuele misdrywe, kapt. Mbuti Richard Foli (58), toegestaan. Twee van hul Nigeriese mede-beskuldigdes, dr. Magnus Adelani Osinowo (31) en Aboyomi Saheed Bello is ook op borgtog van R100 000 elk vrygelaat.

 
Dr. Magnus Adelani Osinowo (31)is op borgtog van R100 000 vrygelaat. Foto: Christiaan Cloete

Al die mans het onderneem dat hulle nie met die saak sal inmeng, met die klaer/slagoffer kontak sal maak of sal vlug nie. Die eerste beskuldigde, Ikechukwu Anthony Onongaya is steeds in aanhouding aangesien hy glo onwettig in die land is.

 
 
Ikechukwu Anthony Onongaya is die enigste van die vyf verdagtes wat nie op borgtog vrygelaat is nie. Hy is glo onwettig in die land. Foto: Christiaan Cloete

Die staat, wat voorheen aangedui het dat hulle borgtog vir al die verdagtes sou teenstaan, het hierdie week van deuntjie verander toe dit aan die lig gekom het dat die klaer skynbaar ‘n geskiedenis het van verkragtingsake oopmaak waarvan niks kom nie. Die slagoffer se naam mag nie bekend gemaak word nie.

Brig. Selikoe Esau Mokoena (57) bestudeer die klagtes teen hom. Foto: Christiaan Cloete

Volgens hierdie nuwe inligting het die klaer/slagoffer op 20 Januarie 2014 ‘n verkragtingsklag gelê maar dit op 28 Julie 2016 teruggetrek. Die klaer/slagoffer het ook ‘n verkragtingsklag by die Vereeniging polisiestasie gelê rakende ‘n verkragting wat glo tussen 2 Desember tot 3 Desember 2017 plaasgevind het. Die staat het in hierdie geval besluit om nie te vervolg nie. Die klaer/slagoffer het ook ‘n verkragtingsklag by die Sebokeng-polisie teen haar oom aanhangig gemaak rakende ‘n verkragting wat volgens haar tussen 20 Junie 2020 en 25 November 2020 plaasgevind het. Hierdie verkragting sou plaasgevind het in die selfde tydperk wat die staat beweer sy deur brig. Mokoena en kapt. Foli verkrag is. Die staat voer ook aan dat brig. Mokoena op die aand van 10 Januarie die vrou by ‘n bordeel in Edwardstraat in Vereeniging verkrag het, maar volgens sy regsverteenwoordiger David Mey het hy vanaf die middag van 10 Januarie tot 11 Januarie gereis na ‘n begrafnis by Zebediela in Limpopo-provinsie.

Kapt. Mbuti Richard Foli in die beskuldigdebank. Foto: Christiaan Cloete

Beide brig Mokoena en kapt. Foli het tydens verklarings wat tydens hul borgaansoek voorgelees is aangevoer dat die staat se saak op die getuienis van ‘n enkele getuie gebaseer is en die klaer/slagoffer se geloofwaardigheid as ‘n getuie in twyfel getrek. Die verdagtes word van mensehandel vir die doel van seksuele uitbuiting aangekla, terwyl die polisiemanne ook op aanklagte van verkragting tereg staan. Die arrestasies volg glo nadat verpleegpersoneel by ‘n plaaslike hospitaal glo die polisie in kennis gestel het oor ‘n vrou wat ‘n mislukte aborsie ondergaan het. Volgens kapt. Ndivhuwo Mulamu, ‘n woordvoerder vir die Valke, word daar beweer dat die vroue by hierdie bordeel teen hul wil aangehou is en dat hulle dikwels dwelms gevoer het.

Aboyomi Saheed Bello is glo eiendomsbestuurder van die  beweerde bordeel in Edwarstraat in Vereeniging. Hy is op borgtog van R100 000 vrygelaat. Foto: Christiaan Cloete

Osinowo sou volgens die staat dwelms toegedien het en aborsies uitgevoer het. Onongaya was glo sy helper. Volgens Mulamu het die polisiemanne die vrou verkrag terwy hulle geweet het dat sy die slagoffer se ma haar by die polisie as vermis aangemeld het. Bello is glo die eiendomsbestuurder van die perseel waar die misdaad plaasgevind het. Die saak is uitgestel tot 13 Augustus. Streeklanddros Retha Willemse is die landdros en Carina Cetzee die staatsaanklaer. Die prokureur Maputle Makhae tree op namens Onongaya en Osinowo. Die prokueur David Mey verteenwoordig brig. Mokoena en die prokureur Riaan du Plessis verteenwoordig kapt. Foli. Bello word verteenwoordig deur Jaco van Heerden.  

 

 
 
 
 

Related Articles

Back to top button