Home & GardenLifestyle

Lelspreeus: Deur die lens van ons lesers

Lelspreeus: Deur die lens van ons lesers

   

 

Ons het ongeveer twaalf jaar gelede kom kyk of ons dalk ‘n nuwe rusplek vir ons voete hier in Parys kan kry. Met die inry in die dorp vanaf die snelweg se kant, het ons by die Hoërskool verbygery en op die rugbyveld was daar ‘n plaat grys voëltjies wat ons nie kon identifiseer nie. Later met die hulp van ‘n voëlboek het ons uitgevind dat dit lelspreeus (wattled sterlings) is. Op die oomblik sien ons hulle laatmiddag oral in die dorp waar hulle in hoë bome sit en gesels. Een van die voëlboeke sê hul uiter deurmekaar piepgeluide. Hoekom dan die naam lelspreeu? Die lelspreeu is kleiner as ‘n tortelduif en is ‘n vaalgrys voël met swart vere in die vlerke en stert. Soos dit maar in die natuur gaan, het die mannetjie meer kleur in die broeiseisoen en spog hy met ‘n geel agterkop sonder vere en opvallende swart lelle op sy voorkop en keel. Vandaar die naam lelspreeu.

 

Na die broeiseisoen lyk die mannetjie feitlik net soos die wyfie. Die lelle verdwyn, vere groei weer op sy kop en daar is net ‘n klein stukkie geel agter die oog. Die jonges lyk soos die wyfies – redelik kleurloos, maar tog effe bruiner.    

 

 

Foto’s: Leon van der Merwe, Sally Martin Park.

Die lelspreeus kom oor die hele Suid-Afrika voor – soms in groot swerms wat ook ander spreeus kan insluit. Hulle verkies kort grasveld, savanne of oop boomveld waar hul gewoonlik kos op die grond soek. Hul kos bestaan hoofsaaklik uit insekte maar hul kan ook vrugte, nektar en saad vreet. Die lelspreeu is nie ‘n bedreigde spesie nie, en word soms as waardevol beskou deur boere omdat hul so baie sprinkane, wurms en ander insekte vreet. Hulle is altyd in die omgewing maar ook nomadies en trek agter kos aan. Daar is ook gevind dat hul selfs hul eiers en kuikens sal los as hul wegtrek om te gaan kos soek. Feathers voëlklub kon as gevolg van Covid ongelukkig nie sy byeenkomste hou nie, en selfs die uitstappies is beperk. Hulle is egter steeds hier en Hansie Bekker (056) 811 4754/082 820 4306 en Peter Killian 083 625 8100 kan vir inligting oor die klub geskakel word.  

 

 

 

Leon van der Merwe van Sally Martin Park het dié foto van die lelspreeu ingestuur en vertel dat die foto geneem is toe ‘n swerm lelspreeus vir ‘n paar dae in ‘n boom opgemerk is. “Ek was gelukkig om ‘n mannetjie met sy ‘lel’ sigbaar te kon afneem. Foto: Leon van der Merwe.

       

Related Articles

Back to top button