Twee kollegas, ‘n gedugte span

Twee kollegas, ‘n gedugte span

 

 

 

Min weet dat ‘n Belgiese herdershond/Husky-kruising van die polisie se K9 honde-eenheid in Sasolburg, wat hier in Parys woon, betrokke was by die soektog na die 35-jarige Yolandi Botes wat vroeër tragies geëindig het toe dele van haar ontbinde liggaam in die omgewing van die Vaal-vakansieoord by Villiers gekry is. Die herdershond met die naam Bennie, werk saam met ao. Holtzhausen en is geen onbekende gesig in Parys nie.

Trouens, vra maar baie skoolkinders en hulle sal dadelik vir Bennie herken wanneer hy iewers in die dorp opgemerk sou word, omdat hy ook as deel van die polisie se bewusmakingsveldtogte gereeld saam met ao. Holtzhausen by skole gaan inloer vir ‘n praatjie met die kinders.

Die Sasolburgse honde-eenheid bedien die Noord-Vrystaat van Heilbron af noord, en is hier by die eenheid honde wat vir verskillende doeleindes opgelei is. Dit sluit in die springstofhonde, dwelmhonde, patrolliehonde, bedreigde spesie en dan die opspoor- en reddingshonde. Bennie is as opspoor- en reddingshond opgelei.

Omdat daar net vier van hierdie honde en hul geleiers in die Vrystaat is, werk hul regoor die provinsie, en soms selfs in die buiteland.

So was ao. Holtzhausen al in die Kongo en ‘n paar keer in Lesotho vir tragedies soos modderstortings. Die polisie gebruik meestal Duitse herdershonde, Belgiese herdershonde, labradors, golden retrievers en selfs spaniëls om op te lei. Daar word met opleiding van die honde op die ouderdom van 18 maande begin en kan sommige tot 12 of selfs 14 jaar oud werk, afhangend van hul gesondheid. Elke hond word egter gereeld geëvalueer. Honde kan met groot sukses in die polisie gebruik word, vertel ao. Holtzhausen, juis dié wat sogenaamde ‘people pleasers’ is. Dit is hulle wat ‘n hoë dryf het en graag hul eienaar tevrede wil stel.

Daarom word hulle dikwels met balspel die nodige vaardighede geleer om ‘n taak te kan uitvoer waarvoor hulle dan beloon word. Mettertyd assosieer die honde die taak wat hulle moet uitvoer met die beloning wat daarop volg. Nie alle honde slaag hul opleiding nie, maar tot 60% sukses word behaal, en kan dié wat nie vir ‘n spesifieke taak opgelei kan word nie, dalk in ‘n ander dissipline meer suksesvol wees.

Reg van die begin af word daar gekyk na elke hond se welstand, en veral ook hul heupe om seker te maak dat hulle gesond en geskik sal wees om as werkshonde gebruik te kan word. Min mense weet dat jy ‘n hond op ongeveer tweejarige ouderdom aan die polisie kan skenk vir opleiding en sou jy dit oorweeg, kan jy (016) 971 9100 skakel. Die opleiding van ‘n polisiehond duur vier tot ses maande en word gedoen by die Roodeplaatdam opleidingsentrum. Dit is die enigste opleidingsentrum vir polisiehonde in die land en is ‘n top fasiliteit met net die beste veeartssorg vir die diere. Hier word ook teelprogramme gedoen.

Om by die honde-eenheid te kan aansluit moet polisielede eers hul gewone twee jaar polisiekollege opleiding voltooi, aansoek doen vir die honde-eenheid en sou hul aanvaar word, dan ook psigometriese toetse slaag.  

Ao. Holtzhausen saam met sy ‘kollega,’ Bennie. Foto: Liezl Scheepers

Geleiers werk gewoonlik twee-twee omdat dit ‘n spesialiseenheid van die polisie is. Bennie is nou agt jaar oud en is ao. Holtzhausen se derde reddingshond. Wanneer ‘n hond nie meer geskik is om te kan werk as polisiehond nie, is daar die opsie dat sy geleier hom kan koop.  

Bennie, die Belgiese herdershond/Husky-kruising met sy reddingsbaadjie spesiaal vir hom gemaak. Foto: Verskaf

    Bennie is reeds sedert die ouderdom van ses weke by hom en is deur ‘n teler van Riebeeckstad aan hom gegee. Sy taak is om lewe en dood op die water sowel as op land te soek. Hy werk in vloedsituasies, soek vermistes in die water, berg, veld en selfs vlak grafte en het ‘n baie hoë suksessyfer. Saam soek dié twee kollegas tussen vier tot ses verdrinkings of vermistes per maand. Daar is nie ‘n ding wat hulle nie saam doen nie – van absail tot jetski ry, want daar word van ‘n polisiehond verwag om te kan sosialiseer en gewoond te wees aan alles.

Wanneer die twee aan die werk is soos dikwels al hier by die hangbrug gesien is met verdrinkings, is dit ‘n gedugte span – twee kollegas wat mekaar sonder woorde verstaan. Kollegas, maar ook beste vriende, geheg en getrou aan mekaar.

En wanneer die dag kom dat Bennie, of te wel Bravo 6039 (sy magsnommer) moet gaan rus, is dit net hier by ao. Holtzhausen in Parys waar hy sal bly.

 

 

Related Articles

Back to top button