NewsNews

‘In hierdie tye moet jy entrepreneur wees’

‘In hierdie tye moet jy entrepreneur wees’

Humor was nog altyd deel van Suid-Afrikaners. Ek noem dit die humor van oorlewing. Maar die interessante ding van humor is nie almal lag oor dieselfde goed nie. Wat vir die een snaaks is, is vir die ander een verbode. “In ons bedryf sê ons as jy kan humor doen, kan jy hulle laat huil ook. “Interessant genoeg het ek eintlik al baie meer ernstige as humoristiese goed gedoen – op film, TV, en teater, maar mense onthou die nie-ernstige goed soos Mollie & Wors.”

Só gesels die befaamde en veelsydige Lizz Meiring wat op 5 Junie hier op die verhoog in Parys te sien is wanneer sy by die Noble Equestrian Country Estate ‘n damesoggend met die tema, ‘n Mooi Storie, aanbied. Die geskiedenis van mode, skoonheid en kosmetiek, verweef met interessante karakters en sketse soos net Lizz Meiring kan. ‘n Storie wat jou gaan laat terugsit vir ‘n “trip down memory lane” met daardie kenmerkende raaksê Lizz-humor.

Op haar borrelende manier vertel sy dat die tyd toe sy drama aan die Universiteit van Pretoria studeer het, haar geleer het van entrepreneur-wees. Aan die hand van Pieter-Dirk Uys het sy geleer om haar eie werk te skep en haar eie ding te doen. “Met die pandemie is almal geraak – nie net die kunste nie. Soos enige ander bedryf moet ‘n mens in hierdie tye entrepreneur wees,” sê sy. “Ek moet nog net uit ‘n koek spring, dan het ek al oral ‘perform’” Met haar eie klank, ligte, en verhoog wat op-en-af slaan, is sy deesdae oral in die land aan die optree – in teetuine, buite venues, trou- en konferensie fasiliteite, restaurante, boutique hotelle – noem maar op. “Só kry kleiner fasiliteite voete en blootstelling, want ook hulle is net so erg geraak as kunstenaars, tegnici en teaters wat nie kan oorleef met die aantal mense wat ons nou daar kan inkry weens Covid-maatreëls nie. “So help ons mekaar. Genadiglik is ek van jongs af geleer om entrepreneur te wees.”

En as die Vrystaat Kunstefees in Oktober gehou word, sal sy ook daar haar uitmuntende solo, Die Weduwee se Sjampanje, opvoer. Die solostuk is onlangs gesien in die Atterbury-teater in Pretoria. Dit vertel die verhaal van die Franse weduwee, Barbe-Nicole Clicquot, ‘n fassinerende, eksentrieke vrou wat wyn en sjampanje maak, vir ewig wêreldwyd verander het met haar metodes wat sy ontwikkel het om die eerste suiwer sjampanje te vervaardig, vertel Lizz. Haar luukse sjampanje, Veuve (Frans vir weduwee) Clicquot, kry jy vandag nog te koop.

Lizz Meiring het oor die afgelope 37 jaar in die uitvoerende kunste ‘n huishoudelike naam vir Suid-Afrikaners geword. Noem maar op – van Lady Macbeth tot ‘n pop-up teater – sy’t al als gespeel. Sy het 19 toekennings agter haar naam – as akteur, regisseur en skrywer, en vir kulturele bydrae – te veel om te noem – sowel as 18 nominasies. Op 9-jarige ouderdom het sy haar eerste professionele werk as aktrise by TUKS se drama departement in CJ Langenhoven se “Vrou van Suid-Afrika”, gedoen. Sy het al meer as 5 000 funksies gedoen, 286 TV-produksies, 28 rolprente, 214 teks-, regie- en vervaardigingprojekte, 346 verhoogproduksies, 12 gepubliseerde werke en ‘n DVD.

En as jy dink haar talente eindig by aktrise, teater regisseur, vervaardiger, dramaturg, stemkunstenaar, verhoog- en TV-aanbieder, film- en TV-teksskrywer, kopieskrywer, vertaler, fiksie en jeugromanskrywer, rubriekskrywer, geleentheid-kunste-joernalis, teaterkundige, kreatiewe konsultant, spreker en seremoniemeester, gaslektor, kunste raadgewer en kreatiwiteitjunkie – is dit werd om te weet dat sy ook ‘n gekwalifiseerde afslaer is.

‘n Vaardigheid wat sy weer in Junie sal inspan met ‘n veiling om geld in te samel vir ‘n nuwe bakkie vir die Potchefstroom Animal Welfare Society (Paws) waar sy verlede jaar ook ‘n nag in ‘n hok geslaap het om geld vir dié organisasie in te samel. Sonder enige staatsbefondsing bedien die organisasie verskeie dorpe, sê Lizz, as sy vertel dat haar hart groot is vir diere. Daarom haar siening – Adopt, don’t shop. Maar dit is nie net diere wat haar hart aangryp nie.

Sy is steeds betrokke by Metro Evangelisasie Sorg (MES), ‘n organisasie wat Hillbrow en die middestad skoonmaak, ophef en straatmense effektief help en leer om volwaardig op hul voete te kom en suksesvolle, selfstandige lewens te leef. Sedert 2015 is sy ook ‘n bestuurslid van die Teater Bystand Fonds. Dit is die enigste hulpfonds vir die hele uitvoerende kunste en vermaaklikheidsbedryf in Suid-Afrika wat onder meer permanent sorg vir ‘n groot aantal behoeftige bejaarde kunstemense wat totaal van die fonds afhanklik is, en tydens hul beroepslewe bloot te min verdien het om geld te kon wegsit, en nou geen familie of gemeenskap steun het nie.    

 

   

Related Articles

Back to top button