News

Dorp se rolbal- en rugbyklub verloor ’n groot steunpilaar

Dorp se rolbal- en rugbyklub verloor ’n groot steunpilaar

Parys se rolbal en rugbyklubs het Vrydag een van hul grootste steunpilare verloor met die afsterwe van sakeman Bobby McIntyre. Bobby is Vrydag 21 Mei oorlede. Hy was 73 jaar oud.

 

Bobby het in Welkom grootgeword en daar sy skoolloopbaan begin. Hy matrikuleer aan Hoërskool Hentie Cilliers in Virginia, en voltooi daarna sy vakleerlingskap as passer-en-draaier op die myn. In Januarie 1969 begin hy as ambagsman by Anglo American. Op 28-jarige ouderdom word hy een van die jongstes om in ’n bestuursposisie by die myn aangestel te word, en op 35 word hy bevorder tot ’n senior bestuursposisie. In 1992 het hy die besigheidswêreld betree en ’n vulstasie suksesvol bedryf totdat hy en sy gesin besluit het om hul in 1996 in Parys te vestig. Dis hier in Parys waar hy OV Precision Engineering by Jan Pieterse oorgekoop het (’n maatskappy wat toe reeds welbekend was in Parys vanaf die vroeë 1980’s). Tipies van die mens wat hy was, het hy so gou as moontlik sy twee seuns, Màrk en Claude, en later jare ook sy dogter, Wendy, betrek, en OV Precision Engineering verder as familieonderneming suksesvol uitgebrei en bestuur.  

Rugby

In 1997 het ’n paar jong manne van die dorp hom genader en gevra om hul te help om Parys-rugbyklub weer aan die gang te kry. Weens sy innemende geaardheid en oorredingsvermoë het hy vinnig genoeg manne gekry om deel te word van die klub en het Parys in Mei 1997 in die Noord-Vrystaat Plattelandse liga begin deelneem. Geen moeite was vir hom te veel om Donderdagaande die Noord-Vrystaat plat te reis, sodat die span wedstryde kon gaan speel nie. Met behulp van ander sakemanne van die dorp en die goedhartigheid van mnr. Lucien van Zyl van die hoërskool, het hy dit reggekry om spreiligte by die hoërskool rugbyveld aan te bring, en sodoende kon Parys tuiswedstryde in die aand aanbied. Een van sy persoonlike groot hoogtepunte was na afloop van die 1999-rugbyseisoen, toe drie Parys-spelers (Màrk McIntyre, Claude McIntyre en Wollie Cronjé) gekies is vir die Noord-Vrystaat Platteland-span wat aan die interprovinsiale reeks op Kroonstad deelgeneem het.  

Rolbal

Bobby was veral bekend vir sy betrokkenheid by die plaaslike rolbalklub. Nie net was hy ’n kranige speler nie, maar hy was intens betrokke by die bestuur van die klub en spanne. Gedurende sy tyd as president by die klub, was hy saam met verskeie lede en oudlede van die klub betrokke by die opgradering en verbetering van die rolbalklub se fasiliteite, danksy fondse van die Nasionale Lotery. In 2012 het hy die inisiatief geneem om ’n besigheidsliga by die rolbalklub op die been te bring. Hierdie inisiatief van Bobby het byval by talle besighede en Parysenaars gevind en dit het die rolbalklub finansieel baie ondersteun. Tot en met sy afsterwe, was Bobby baie trots op die ondersteuning van elke besigheid. In 2012 het hy as spanbestuurder van die Noordwes o/19-rolbalspan begin optree. Sy trotste oomblik was in 2018, toe hy die spanbestuurder van die Suid-Vrystaat 0/20-rolbalspan was wat die Suid-Afrikaanse 0/20 Nasionale kompetisie gewen het (met sy kleinseun, Robert McIntyre, as kaptein van die span). Hy was president van die rolbalklub van 2015 tot 2020. In 2020 ontvang hy erelidmaatskap van die klub en word die B-baan na hom vernoem.

Bobby sal onthou word vir sy liefde vir sy medemens. Hy het altyd tyd gehad vir ’n grappie of om iemand ’n poets te bak. Sy positiewe gesindheid sal gemis word, ook by die Gazette-kantoor waar hy gereeld kom inloer het.

Hy word oorleef deur sy vrou, Lorraine, sy drie kinders, Màrk, Claude en Wendy en hul gades, asook sy ses kleinkinders.    

   

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button