
MEYERTON. – Dr. Maarten-Pieter Boele (72) is volgens sy praktykbestuurder, Retha Steyn, Donderdagmiddag in die Midvaal Privaat Hospitaal in Vereeniging opgeneem nadat hy gekla het dat sy rug seer was. Hy is Saterdagoggend omstreeks 01:26 dood nadat hy ‘n beroerteaanval gehad het.
Dr. Boele se vrou Kiki, is in Augustus verlede jaar oorlede. Dr. Boele is op 6 Desember 1948 in Nederland gebore. Hy het in 1963 saam met sy familie na Suid-Afrika verhuis.
Hy het in 1966 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria (Affies) gematrikuleer en homself later as mediese dokter in Delft in Nederland bekwaam.
Hy het in 1990 na Suid-Afrika teruggekeer waar hy as algemene praktisyn gepraktiseer het. Talle inwoners sal dr. Boele se spreekkamer in Lochstraat 18 in Meyerton se middestad onthou. Huldeblyke het die afgelope week vir dr. Boele op sosiale media ingestroom. Talle inwoners onthou hom as ‘n “sagte mens” wat vir ander omgegee het en altyd uit sy pad gegaan het om ander te help.

Volgens Steyn sal die praktyk voortbestaan. Daar is tans studentedokters (locums) wat pasiënte bystaan. Die praktyk is op soek na ‘n algemene praktisyn. Dr. Boele laat sy twee seuns, Alexander en Max agter. Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie gefinaliseer nie.





