NewsNews

Ondenkbare skade aan dié bakenmerk ná vragmotor draai mis

      Enorme skade wat jou laat dink aan ‘n ontploffing wat ‘n gebou stuk vir stuk uitmekaar ruk tot ‘n puinhoop van bourommel, is vanoggend, Vrydag 14 Mei, in die vroeë oggendure aangerig aan ‘n gedeelte van die bekende Pine’s Antiques-gebou in Parys se hoofstraat, sowel as een van die aangrensende geboue waaruit …

   

 

Enorme skade wat jou laat dink aan ‘n ontploffing wat ‘n gebou stuk vir stuk uitmekaar ruk tot ‘n puinhoop van bourommel, is vanoggend, Vrydag 14 Mei, in die vroeë oggendure aangerig aan ‘n gedeelte van die bekende Pine’s Antiques-gebou in Parys se hoofstraat, sowel as een van die aangrensende geboue waaruit die geskenk- en klerewinkel, “Ietsie mooi” bedryf is.

Die vragmotor met die vlag van Pine’s Antiques wat met die verwoestende slag saamgesleep is, nog bokant die vragmotor so half skuins-regop  op van die foto’s sigbaar – soos ‘n satiriese einde van ‘n rillerprent wat jou half verdwaas  wil laat vra – maar hoe?

Die ongeluk het net na 01:00 gebeur toe ‘n vragmotor wat van Johannesburg na Kroonstad onderweg was, op die skerp draai by Breë- en Waterstraat reguit aangery het tot  teen die Pine’s Antiques gebou  en uiteindelik op sy verwoestingspad teen  “Ietsie mooi” tot ‘n halt geruk is. Die vragmotorbestuurder is lig beseer. 

 

   

Hier kan die draai gesien word wat deur die vragmotor gemis is. 

Die skok en ongeloof oor die skade wat aan hierdie jarelange bakenmerk van Parys aangerig is, was vanoggend duidelik in die talle foto’s wat op sosiale media gedeel is van die skade en verwoesting.

Hoewel daar in die verlede al verskeie ongelukke by die spesifieke draai was, is dit die eerste keer dat ‘n voertuig van die Sasolburg-kant af oor die randsteen en deur die padreëlings is. Met al die vorige ongelukke het voertuie telkens van die Vredefort kant of, of weens spoed, of omdat hulle hul veral saans met die draai misgis het, deur die reëlings gebars.

Die Pine’s Antiques-gebou is sedert die 1950’s ‘n deel van Parys.  Die onderneming, Pine’s Antiques, is in 1973 deur die Pienaar-familie begin en het kliënte oor jare van heinde en verre gekom vir die besondere oudhede wat hier verkoop word.

Die Pienaar-familie is ook die eienaar van die gebou, en is daar 8 jaar gelede besluit om die gebou so te verander om 8 ondernemings onder een dak te kon huisves. ‘n Projek wat deur die baie talentvolle André Swart aangepak is, wie in Augustus 2020 oorlede is. André was ook nou gemoeid by ander projekte soos die bekende Villa Maria huis in Parys. Vir die Pine’s Antiques-gebou het hy heelwat navorsing gedoen om die fasade en kleure so getrou moontlik aan die Victoriaanse era te kon kry. Daarom sal die herstel van die gebou alleen ‘n enorme uitdaging wees.

Die gebou huisves die ondernemings van Kiki’s, Pine’s Antiques, Pine’s Emporium, Collage, Nouvelle, The Repurposed Wood, Liewer Koffi en The Hutton Gallery. Naas die groot skade aan die Pine’s Antiques-gebou het Pine’s Emporium (‘n dekorwinkel) ook groot skade en was dit vroeg vanoggend nog nie seker wat die skade by Nouvelle en Collage was waar ruite ook gebreek is. Daar sal eers gewag moet word vir die versekeringsassessors voordat bepaal kan word wat die geboustruktuur en voorraadskade van die onderskeie ondernemings is.

Die  hartseer is dat die skade kom in ‘n tyd waar baie ondernemings nog hul voete vind met die Covid-19 pandemie, en baie besigheidseienaars steeds die gevolge van inperking voel.

Vir Ilze Botha, eienaar van Liewer Koffi, is daar nietemin ongelooflike dankbaarheid. Waar haar koffiewinkel net ‘n dag tevore nog was, is niks oor nie. Maar vir haar was die genade groot. Sy was besig om die koffiewinkel te renoveer en sou juis vandag, Vrydag 14 Mei, die voorste vertrek wat nou verwoes is, geverf het. Die meubels en inhoud van die koffiewinkel is gister na agter in die winkel geskuif sodat geverf kon word. Vir my is dit ‘n lukrake ervaring – iets wat gebeur het, sê sy. “Dit is wat dit is. ‘n Nuwe begin.”

     

Links kan die skade aan “Ietsie mooi” gesien word, en regs is waar Liewer Koffi nog Donderdag was. 

Hier kan van die skade aan die Pine’s Antiques gebou gesien word. 

 Quintin Shahin, eienaar van die Ietsie mooi-gebou het ook aan Gazette bevestig dat dit nog onmoontlik is om in hierdie stadium ‘n waarde aan die skade te kan gee. Naas sy gebou skade, het “Ietsie mooi” ook heelwat skade aan die voorraad van die geskenk- en klerewinkel.

Maar ten spyte van die skade is die winkeleienaars positief en is daar reeds planne gemaak vir “Ietsie mooi” om net oorkant die straat (steeds in Breëstraat) by die Cherry on Top-gebou die onderneming se deure hopelik reeds al oor die naweek te kan oopmaak.  Ook Pine’s Antiques en van die ander ondernemings in die gebou (behalwe Liewer Koffi) kan steeds oor die naweek ondersteun word. 

Volgens polisiewoordvoerder brig. Motantsi Makhele, word ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek.  

Een van die vertrekke binne die gebou waar die Ietsie Mooi geskenk- en klerewinkel was, wat totaal vernietig is in die ongeluk.

     

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button