NewsNews

1,6 ton se teer in slaggate – nog baie nodig

1,6 ton se teer in slaggate - nog baie nodig

 

Die plaaslike AfriForum-tak het gedurende April sowat 1,6 ton teer gebruik om slaggate in Parys se strate op te vul. Hoewel dit reeds ‘n groot verskil aan die dorp se paaie maak, is daar só baie slaggate dat dit net té veel is om alles uit die tak se begroting te herstel. Dié komende naweek sal AfriForum juis weer slaggate in Parys se strate herstel, en vaal en afwesige stoptekens vervang.
Die tak het daarom ‘n beroep op inwoners gedoen om teer vir die projek te skenk.
“Vele hande maak ligte werk en hoe meer inwoners betrokke raak, hoe meer slaggate kan opgevul word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Benewens die herstel van slaggate in die dorp, het die AfriForum Parys-tak ook in April bygedra vir die aankoop van 15 nuwe skoolbanke vir Parys Primêre skool. “Ons beskou dit as ‘n belegging in die jeug van ons dorp. Die skole het groot uitdagings tydens die Covid-19-pandemie ervaar en ons is dankbaar dat ons hulle kon help,” sê Pieter Struwig, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.
In samewerking met die Parys#Selfdoen projek kon AfriForum ook gedurende April die dorp se museum buite verf, die museum se tuin skoonmaak, asook die ou begraafplaas begin skoonmaak.

Die skoonmaak van die begraafplaas is ‘n reuse-taak wat nog nie afgehandel is nie.
Inwoners wat geliefdes het wat daar begrawe is, word genooi om by die projek betrokke te raak. Daar sal weer die naweek van 22 Mei in die begraafplaas skoongemaak word.

“Dit is lekker om te sien dat al hoe meer inwoners by selfdoenprojekte betrokke raak. ‘n Mens het die keuse of jy self hand aan die ploeg gaan slaan, en of jy gaan bly kla en alles om jou los om tot niet te gaan,” sê Pretorius.
Mense wat by die AfriForum-tak wil aansluit of by die projekte betrokke wil raak, kan vir Jenny Kruger by 082 090 2563 skakel.

 

Related Articles

Back to top button