News

Transformator herstel, maar…jy sal moet spaar

Maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening vir Ngwathe steeds nie verhoog nie

 

Eskom se tweede transformator in sy substasie in Parys is wel na ‘n hofstryd einde ten laas in Februarie herstel, maar dit beteken nog nie noodwendig die einde van Parys se kragstryd nie. Maandagaand is inwoners gevra om dringend kragverbruik te verminder om rotasie beurtkrag te voorkom, nadat Eskom al net na 19:00 gewaarsku het dat Parys 90% van sy maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening (NMD) gebruik het.

Hoewel die dorp nou ‘n geïnstalleerde vermoë van 40mVA by die Eskom-substasie het, en die herstel van die tweede transformator las op die reeds brose elektrisiteitsnetwerk help verlig, is die probleem steeds dat die maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening (Notifyable Maximum Demand) vir die Ngwathe-munisipaliteit nog nie aangepas is nie, en is daar net 21mVA se elektrisiteit goedgekeur. Dit terwyl die dorp se winter aanvraag normaalweg hoër is as 24mVA.

Dit beteken dat as Parysenaars nie gedurende veral die wintermaande gaan spaar op kragverbruik deur nie-noodsaaklike elektriese toerusting, warmwatertoestelle en pompe af te skakel nie, rotasie beurtkrag na alle waarskynlikheid weer jou voorland gaan wees. Parys se NMD is 10 jaar laas verhoog. Eskom het in November verlede jaar tydens die hofstryd met die Vaal River Development Association, die transformator herstel nadat die kragreus eers volstrek geweier het tot Ngwathe sy skuld betaal. Die kragreus se vroeëre weiering het veroorsaak dat Eskom sedert Junie 2020 sy enkele werkende transformator “beskerm” het teen oorlading deur eenvoudig die dorp se kragtoevoer te sny, sou Ngwathe die 20MVA wat die werkende transformator voorsien, oorskry het.

Dit het die munisipaliteit genoodsaak om self kragbeheer toe te pas. Met die transformator herstel beteken dit dat Eskom nou wel kan voorsien in die vraag van die bestaande ladingsooreenkoms met die tweede transformator as rugsteun vir die primêre transformator, maar steeds binne die beperkings van die ooreengekome hoeveelheid MVA.

Hoewel Eskom nie ’n aansoek van ’n munisipaliteit om sy NMD te verhoog kan afkeur as die munisipaliteit agterstallig is met betalings nie, het die hof nog geen perk geplaas op die praktyk deur Eskom om elektrisiteit te lewer in ooreentemming met die ooreengekome NMD nie.

Die Vaal River Development Association het in Augustus 2020 namens die Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum en Parys Gemeenskaps Aksie en die Lekwa Belastingsbetalersvereniging, hulle na die hooggeregshof gewend met dringende aansoeke om ‘n stokkie te steek voor Eskom se eensydige afdwinging van munisipale beurtkrag.

Eskom het toe na die vroeëre interim hofbevel van regter Anthony Millar wat Eskom verbied het om verdere kragvermindering in Parys en Vredefort toe te pas, en die kragreus aangesê is om die transformator te herstel, aansoek om verlof tot appél teen die hofbevel, ingedien. Die saak is daarna na die appélhof verwys vir beslissing.  

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button