News

Net ’n paar eiers en die horlosiewyser wat tik

Net ’n paar eiers en die horlosiewyser wat tik

 

 

Om met net ses eiers in jou mandjie, die minimum kombuistoebehore, en ‘n paar ekstra bestanddele wat vinnig van die tafel gevat kan word, binne ‘n uur blitsig iets eetbaar en boonop aantreklik voor te sit, wil gedoen wees.
Petra van Niekerk en haar spanmaat, Juandré Hoy, albei van Hoërskool Parys, het egter gewys dat horlosiewysers hulle nie laat kop verloor in die kombuis nie, en dat die moontlikhede onbeperk is, selfs met net ‘n paar eiers as jy op jou voete agter die stoof kan dink sonder ‘n resep. Die twee is deur die skool ingeskryf vir ‘n kookkompetisie wat die afgelope naweek deur die Potchefstroom Chef Academy by The Roots aangebied is.
Dit was ook die Sjef Akademie se eerste opedag vir die jaar met die wenspan wat ‘n drie jaar diplomakursus met die kompetisie kon wen. Sewe skole was ingeskryf en dié kranige kokke het van sover as Potchefstroom, Carletonville, Parys en Fochville gekom. Petra en Juandré se spogpoging aan die einde van die dag was ‘n eier frittata met gekarameliseerde uie- en spinasievulsel.

 

Petra en Juandré waar hulle Saterdag hard aan die werk was in die kombuis om binne ‘n uur vir die beoordelaars ‘n smaaklike eiergereg te kon voorsit.

Die sjefs is vooraf tydens ‘n werkswinkel geleer hoe om ‘n netjiese roerbraai te maak, en kyk net hoe spoggerig is dit voorgesit.

 

Die span van Girls High het uiteindelik gewen, met Gimmies tweede en Carletonville derde.
Die dag het naas die kookkompetisie ook ‘n werkswinkel ingesluit waar die jong kokke mesvaardighede en verskeie snymetodes geleer is.
Vir dié twee Parys-kokke was dit ‘n dag waar baie geleer is van ‘n rigting waarin hul albei belangstel. Albei het van kleintyd af ‘n liefde vir kosmaak gehad en Petra was ook in graad 4 en graad 7 vir onderskeidelik die Kokkedoortjie en Koekedoortjie oudisies genooi. Toe sy verlede jaar kolwyntjiekoekies vir haar pa se verjaardag gebak het, het dit tot ‘n stroom bestellings gelei wat sy weekliks bak. Haar droom is om ‘n pastry chef te word.

 

 

Related Articles

Back to top button