News

Dr. Koos Hugo los ‘n groot nalentenskap en diep spore in Potch

Dr. Koos Hugo los ‘n groot nalentenskap en diep spore in Potch

“Sy nalatenskappe is nie net beperk tot ons nie, maar sluit ook ‘n leeftyd se vriende, kollegas, skoliere, oud-Puk studente, rugbyspelers en Overs manne in.”

Een van die bekendste sport- en kampusfigure in Potchefstroom, dr. Koos Hugo (80) is op 1 Mei na ‘n siekbed oorlede. Dr. Hugo is op 31 Maart 1941 gebore. Hy was bekend as die direkteur van Puk Sport vanaf 1990-2001, asook die koshuisvader van Over de Voor Manskoshuis vanaf 1987-1997.

Hy het diep spore in Potchefstroom in veral rugbykringe getrap. Dié onderwyser het as afrigter ook groot welslae by Hoërskool Piet Potgieter in Potgietersrus behaal en in 1968 die eerste rugbyspan na die Administrateursbeker gelei. Hy was ook ‘n tussentydse president van die Luiperds Rugbyunie.

Dit was alombekend dat hy baie gesond geleef het en hy het tot en met sy dood nog gereeld geoefen en gestap.

Hy het gematrikuleer aan die Hoërskool Erasmus in Bronkhorstspruit  en by NKP geswot as ‘n Hoërskool onderwyser waar hy sy BA en HOD kwalifikasies verkry het.
Hy het in begin skoolgee in Hartbeesfontein waarna hy aangestel is as geskiedenisonderwyser by Piet Potgieter Hoërskool in 1964. Hier was hy dan afrigter van die eerste rugbyspan wat die administrateursbeker gewen het en op daardie stadium was hy die jongste afrigter in die geskiedenis van die beker wat dit gewen het.
Dr. Koos Hugo (80) het ‘n groot invloed op sport gehad.
Daarna was dr. Hugo vir vyf jaar departementshoof van geskiedenis in Merensky Hoërskool waar sy eerste span 3 jaar na mekaar vir Ben Vorster gewen het. Hy was ook afrigter van die Verre-Noord span en sameroeper van die hoërskool-keurkommittee.
Hy het ook toe sy Honneurs in Geskiedenis en sy B.Ed grade deur UNISA verkry.
In 1974 is dr. Hugo aangestel as n lektor by die departement opvoedkunde van UPE. Hier het hy sy M. Ed graad met lof behaal en het hy ‘n beurs ontvang om vir n jaar aan die universiteit van Lancaster te gaan studeer in Engeland waar hy toe in 1980 gaan studeer het en ‘n MA graad in navorsing ontvang het. Terwyl hy by UPE was het hy die o.20 rugbyspan afgerig, was hy sameroeper van die OP o.20 keurkommittee en was hy ook sameroeper van die SAU o.19 keurkommittee en afrigter.
In 1979 het hy as senior lektor by die departement opvoedkunde begin werk by PUK waarna hy dan ook sy D .Ed graad behaal het.Hy is toe later oorgeskuif na die sportburo as adjunkdirekteur en het in 1990 direkteur van sport geword tot met sy aftrede in 2001.
Op rugbyvlak was hy was afrigter van die Puk 0.20 rugbyspan , Ibbies en PUK 1 sowel as afrigter van WTVL o/20 en later o.21 rugbyspanne en was adjunk president en later waarnemende president van Wes-Transvaal toe Johan Claassen uitgetree het.
Met die toetrede tot internasionale rugby  is hy aangestel as die sameroeper van die o.21 keurkommitee van 1994 tot 1997.
Na sy aftrede het hy op Kaap St Francis gaan bly en het 5 jaar terug na Eden Glen in Jeffries baai toe getrek.
Hy laat sy vrou Marianne, kinders, Kobus en Rosa, skoonkinders, Willem en Charlotte, sowel as 5 kleinkinders agter.

 

Sy kollega vir meer as 10 jaar by die destydse Puk Sportburo en tans NWU Atletiekbestuurder, Terseus Liebenberg, vertel dat dr. Hugo ‘n uitmuntende leier was wat mt integriteit en aksie gelei het. “Dr. Hugo was ‘n ware rolmodel en mentor vir my en baie ander. Nie net was hy ‘n kampioen-leier, administrateur en afrigter nie, maar ook ‘n kampioen mens.

“Dr. Hugo het my in 1992 oorreed om die stad vir die platteland te verruil en PUK toe te kom. Vir my en my gesin was dit ‘n groot besluit, maar dr. Hugo se eerlikheid, opregtheid en menswees het die besluit maklik gemaak. “Daar is soveel mooi herinneringe wat my altyd sal bybly. Hy het gereeld by my kantoor en by ons ander personeel kom inloer of na my en my gesin se welstand verneem. Dr. Hugo het my nog altyd elke jaar op my verjaarsdag gebel, iets wat ek ontsettend waardeer het.”

Volgens Liebenberg was daar net reg en verkeerd en niks tussenin nie.

“Hy was streng, maar terselfdertyd ook altyd regverdig. Sy nederigheid en die manier hoe hy sy Christenskap uitgeleef het, sal my altyd bybly. Ons het saam in 1993 die “Koos Hugo-gimnasium” tot stand gebring. Dit was vir byna drie dekades die oefenplek van tientalle kampioene en Olimpiese atlete. Hierdie unieke gimnasium met dr. Hugo se naam sal steeds binne die nuwe perseel van NWU-Sport bly voortleef!”

Die familie het ook na dr. Hugo se afsterwe ‘n boodskap uitgereik:

“Dis met diep hartseer wat ons julle meedeel dat ons man, pa en oupa, Koos Hugo, vanaand (1 Mei) oorlede is. Hy het die resies van die lewe tot op die einde moedig gehardloop, maar op die ou end kon sy liggaam nie meer by sy sterk gees byhou nie en het hy vredevol gesterf. Hy is die laaste paar dae met liefde verpleeg en omring deur sy vrou Marianne en al vier sy kinders. Hy het ons ma enduit liefgehad, geëer en met respek hanteer en ons was bevoorreg om in hulle huis, en onder sy leiding, groot te word. By hom was ons altyd veilig en geliefd. Ons sal hom onthou waar hy soggens op sy knieë langs die bed staan en God aanbid.

Wyle dr. Koos Hugo en sy seun, dr. Kobus Hugo.

“As gevolg van sy getrouheid, dien sy hele huis die Here. Hy was ‘n motiveerder by uitstek en ‘n man van integriteit. “Sy nalatenskappe is nie net beperk tot ons nie, maar sluit ook ‘n leeftyd se vriende, kollegas, skoliere, oud-Puk studente, rugbyspelers en Overs manne in. Dankie vir die menigte boodskappe van bemoediging, oproepe en besoeke die laaste paar maande tot met sy dood.

Wyle dr. Koos Hugo en sy vrou Marianne.

“Daarvoor het ons as familie geweldige waardering. Ons gaan hom so baie mis, maar weet dat hy nou by die Here is en geen pyn meer het nie. Ons eer hom met ons trane en ons vier sy lewe met dankbaarheid.”

https://potchefstroomherald.co.za/86810/dr-koos-hugo-los-n-groot-nalentenskap-en-diep-spore-in-potch/

Related Articles

Back to top button