NewsNews

Oud-speurhoof tree nou eers af na sy onskuld bewys is

Oud-speurhoof tree nou eers af na sy onskuld bewys is

 

Kiewiet van Zyl, voormalige provinsiale speurhoof, se nagmerrie het begin nadat hy die jaar na sy aftrede (2017), daarvan beskuldig is dat hy by ongerymdhede van die Marikana-voorval betrokke was.

Die meeste Potchefstromers ken Kiewiet van Zyl as die voormalige hoof operasionele bestuurder van die Bult-CID (City Improvement District) in Potchefstroom. Saam met prof. Fika Janse van Rensburg, het Van Zyl van 2018 – 2020 groot sukses behaal om die Bult-area vir die inwoners weer veilig en skoon te kry. Maar terwyl hy al sy energie in die CID-projek gestort het, het min mense geweet dat daar ‘n groot swaard oor sy kop hang. Sy nagmerrie het begin nadat hy die jaar na sy aftrede (2017), daarvan beskuldig is dat hy by ongerymdhede van die Marikana-voorval betrokke was. Die Marikana-slagting het op 16 Augustus 2012 plaasgevind toe die polisie 34 mynwerkers van die Lonmin-myn in Marikana doodgeskiet het terwyl hulle oor loonkwessies betoog het. Van Zyl was tydens die onrus die provinsiale speurhoof en het die speurders by die operasionele sentrum op die Lonmin-perseel verteenwoordig.

 

Hoewel hy en drie ander hoë amptenare in die polisie – genl.maj. William Mpembe, kol. Dingaan Madoda en kapt. Oupa Pule – nooit vir moord aangekla was nie, is hulle reputasie en geloofwaardigheid aangetas nadat hulle daarvan aangekla is dat hulle versuim het om die dood van een van die 34 mynwerkers, Modisaotsile van Wyk Segalala, by die polisie se onafhanklike ondersoek-direktoraat (Opod) aan te meld. Opod moes die saak ondersoek omdat die polisie by die slagting betrokke was. Daar is verder beweer dat Van Zyl en die ander beskuldigdes saamgesweer het om Segalala se dood toe te smeer omdat hy in ‘n polisievangwa (in aanhouding) gesterf het. Sy regspan het egter bewys dat Segalala se dood nooit toegesmeer is nie. Hy is wel dood nadat hy saam met ander mynwerkers, wat by die skiettoneel in hegtenis geneem is, na ‘n gebou op die mynperseel vervoer is en waar al die gearresteerdes geprosesseer sou word. Verklarings wat Opod van mynwerkers verkry het wat saam met Segalala in die trok vervoer is, het dit reeds op 18 Augustus 2012 bevestig. Kort nadat die polisievoertuig by die gebou gestop en sy lyk gevind is, het kapt. Pule (een van die beskuldigdes) polisiefotograwe gekry om sy lyk af te neem as bewys dat hy reeds dood was. “Pule sou dit nie gedoen het as hy Segalala se dood wou toesmeer nie,” sê Jan Ellis. Hierdie foto’s is by Opod ingehandig. Sy dood is ook in ‘n register op die perseel opgeteken. Die staatslykswa het Segalala se lyk weggeneem.

 
 

Die verslag van sy dood reflekteer ook in ‘n bewysstuk, gedateer 17 Augustus 2012, wat destyds by die Farlam Kommissie ingehandig is. Dit is deur die verdediging opgespoor en by die hof ingehandig. Ellis het ook later vasgestel dat ‘n beëdigde verklaring van die staatslykshuis, wat verklaar dat Segalala se lyk ontvang is, onder vreemde omstandighede uit die gemerkte verklaringafdeling van die dossier verwyder is om die aanklagte teen Van Zyl en kie te ondersteun. Nadat Ellis op die ongemerkte verklaring afgekom het, het hy dit as bewysstuk by die hof ingedien. Daarin staan, onder andere, dat Lepono Erence Motaung van Opod die lyk op 16 Augustus aan die personeel van die staatslykshuis oorhandig het. Ellis het in die hof betoog dat dit vreemd is dat die Vervolgingsgesag oor hierdie dokumente geswyg het. Dit bewys immers vooraf hulle onskuld. “

 
Niemand het Segalala se dood toegesmeer nie. Vier jaar nadat die Marikana slagting plaasgevind het en niemand nog vir die moorde aangekla was nie, het Opod die amptelike foto’s van Segalala in hul eie kluis in Rustenburg ontdek en, onder andere, die ‘narratief’ geskep dat hy die 35ste mynwerker was wie se dood toegesmeer is,” sê Jan Ellis. Volgens Ellis was dit waarskynlik net om die ontstelde families wat gesinslede by Marikana verloor het gerus te stel dat Opod “aan die saak werk” en “dat vervolging nou plaasvind”. “Die beskuldigdes moes nooit vervolg geword het nie. Dis ‘n skande dat hierdie mense aangekla is en vir vier jaar vervolg is,” sê sê hy. Volgens Ellis moet iemand by die Vervolgingsgesag pa staan hiervoor.
 
Hy sê verder dat dit hierdie jaar al nege jaar is dat daar geen vordering in die saak gemaak is nie en dat die Marikana-gemeenskap nog nie antwoorde gekry het wat hulle soek nie. “Dit is eintlik vir my skokkend dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) met só ‘n dossier bereid was om na die hooggeregshof te gaan. Dit, nadat hulle reeds bewyse gehad het dat Segalala in sy bors gewond was en tydens die vervoer van ander mynwerkers gesterf het. Opod het verder volgens die bewyse reeds op 16 Augustus 2012 geweet dat sy lyk deur die staatslykshuis by die prosesseringsentrum kom haal is,” sê Van Zyl. Maar sy spanning en vernedering het veel verder gestrek as net hy. “My gesin het saam met my gely.
 
Die uitgerekte regsproses het baie spanning en frustrasie by my vrou en my kinders, wat in Johannesburg en Kaapstad woon, veroorsaak. Elke keer wat hulle nuusberigte moes lees en die TV-beelde ervaar wanneer ek in die hof moes verskyn, het hulle saam met my alles deurgemaak. “My aftrede het eintlik eers op 29 Maart 2021 begin – die dag toe ek en my kollegas onskuldig bevind is. Dit is vyf jaar nadat ek by die polisie afgetree het,” sê Van Zyl.  
 
https://potchefstroomherald.co.za/86236/oud-speurhoof-tree-nou-eers-af-na-sy-onskuld-bewys-is/
 
 

Related Articles

Back to top button