NewsNews

Bye-aanval in SE1: Man red hond, eindig self in ICU

Bye-aanval in SE1: Man red hond, eindig self in ICU

VANDERBIJLPARK. – ‘n Gesin van SE1 en hul hond het onder ‘n bye-aanval deurgeloop.

“Ek het meer as 30 angels uit my man se kop gehaal. Hy het daarna begin bewe en ruk en kon nie asemhaal nie. Ek moes met hom hospitaal toe jaag,” vertel mev. Mossie van der Westhuizen.

Die Van der Westhuizens se nagmerrie-ondervindig het verlede Woensdag omstreeks 12:30 begin. “Ek het rustig gesit en ‘n bier geniet toe my tuinwerker (Jacob) by die huis instorm en sê dat ons hond Saartjie, verskriklik huil,” vertel Abraham, Mossie se man.

Dit is toe dat hy opmerk dat baie bye saam met Jacob die huis binnegekom het. “Ek het uitgehardloop na Saartjie en die bye van haar probeer afkry. Niks het gewerk nie en ek is met Saartjie die huis in,” vertel Abraham. In die proses is hy ook verskeie kere gesteek.

Daar was ook nog baie bye in die huis. Jacob het intussen weggehardloop. Hulle weet steeds nie of hy okay is nie.

Hulle het vir Saartjie (net nege maande oud) in ‘n bad water met Savlon gesit en haar ook Allergex, ‘n anti-allergiese middel, ingegee. Sy het later bedaar, maar was baie bang en wou nie weer uit die badkamer kom nie.

Daar was egter vir ‘n geruime tyd nog baie bye in die huis en die hele gesin het deurgeloop. Selfs die werkers in die straat is deur die bye getakel en hulle moes na veiligheid hardloop.

Toe begin Abraham se keel egter toetrek en sy liggaam gaan in skok. “Ek het onlangs ‘n histerektomie gehad en mag eintlik nie motor bestuur nie, maar ek kon nie net kyk hoe my man doodgaan nie,” sê Mossie.

Sy het met hom na Mediclinic Emfuleni gejaag, waar mediese personeel hulle dadelik gehelp het. Sy bedank die mediese personeel vir hul puik diens, asook die motoriste wat so bedagsaam was op die pad.

Abraham se toestand was egter kritiek en hy is in die intensiewe sorgeenheid opgeneem. Nadat sy toestand gestabiliseer het, is hy vir observasie na die Netcare Vaalpark Hospitaal oorgeplaas. Hy sterk nou tuis aan.

Waar het die bye vandaan gekom?

Die Van der Westhuizens se buurman is ‘n byeboer. Volgens hom het hy net leë byekaste op sy erf (hy boer met bye op ‘n ander perseel, ‘n kleinhoewe). Hy sê hy het onlangs gemerk dat ‘n swerm bye hul intrek in een van die leë kaste in sy erf geneem het.

Hy het glo beplan om die bye die naweek na die kleinhoewe te neem. Voor hy dit egter kon doen, het die betrokke bye-kas volgens hom om een of ander onverklaarbare rede omgeval, wat die bye-aanval tot gevolg gehad het.

“Ons medies is uitgeput en my man is nou baie allergies vir bye. Die dokter waarsku hy sal binne vyf minute na ‘n bysteek behandeling moet kry,” sê Mossie.  “Dit het ons lewens omver gegooi. Ons leef nou in vrees as ons ‘n by sien of hoor.”

Wat dit vir haar erger maak is dat die betrokke buurman nie eens een keer jammer gesê het nie. “Ons gaan dit nie hier los nie. Ek gaan ‘n saak teen hom aanhangig maak. Die leë korwe moet uit sy erf verwyder word voordat daar weer bye intrek,” sê Mossie.

“Dankie dat oubaas my gered het.” Dit lyk kompleet of Saartjie vir Abraham van der Westhuizen van SE1, Vanderbijlpark bedank na hy haar gered het tydens die bye-aanval.
x

Related Articles

Back to top button