NewsNews

Diewe steel glo FW se goed uit museum

Diewe steel glo FW se goed uit museum

Diewe het glo by ‘n gedeelte van die Vaal Teknorama in Beethovenstraat, Duncanville ingebreek waar allerlei interessanthede uit die oud-president en Nobelpryswenner, mnr. FW de Klerk, se lewe – insluitend sy heel eerste stel gholfstokke wat hy in 1964 aangeskaf het – uitgestal word.

 

VEREENIGING. – Die museum se personeel het Dinsdag 20 April ons toegang tot die “Local Leaders’ Hall” by die Vaal Teknorama (waar die inbraak plaasgevind het) geweier en gesê dat toestemming eers van hoër vlak verkry moet word.

Die fasade van die Vaal Teknorama Museum. Foto: Verskaf

In daardie stadium het hulle glo nog vir die polisie se forensiese eenheid gewag om uit te kom.

 

Buiten die oud-president se versamelstukke wat hy gedurende sy ampstermyn by staatshoofde gekry het is daar ook inligting oor plaaslike leiers van die Vaaldriehoek, veral met betrekking tot die oorgang na ‘n demokratiese regering ná 1994.

Mnr. FW de Klerk tydens ‘n ontmoeting met die Dalai Lama tydens sy ampstermyn as staatspresident van Suid-Afrika. Foto: www.fwdeklerk.org

Die Local Leaders’ Hall, wat destyds as die FW de Klerk Hall bekend gestaan het, is amptelik in 1988 deur sy voormalige vrou, wyle mev. Marieke de Klerk, geopen. Die museum is later jare herdoop na die Local Leaders’ Hall om ook erkenning te gee aan ander leiers wat ‘n rol gespeel het in die geskiedenis van Sedibeng.

 
 

Na verneem word is dit nie die eerste keer wat daar ingebreek word nie en het diewe so onlangs as die Paasnaweek daar ingebreek. Saviour Kgaswane, ‘n woordvoerder vir die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, kon nog nie vir Vaalweekblad sê presies wat uit die gedeelte van die museum gesteel is of hoe die diewe toegang gekry het nie.

Mnr. FW de Klerk en sy kleinseun FW, speel saam gholf. Die oud-staatspresident was gek oor die sport en het gereeld by Maccauvlei gespeel. Sy gholfstokke is in ‘n stadium in die musem gehou. Foto: Verskaf

Toe Vaalweekblad in Maart verlede jaar die museum besoek het was daar ondermeer ‘n skaakstel uit hout en porselein wat FW destyds tydens ’n ampsbesoek aan Rusland as geskenk gekry het, ’n ornamentele pot wat hy by pres. Hosni Mubarak van Egipte as geskenk gekry het, ’n stel olifanttande wat hy by Koning Goodwell-Zwelithini ontvang het en talle foto’s en stories uit die oud-staatshoof se lewe en ampsbesoeke aan die buiteland. Daar is selfs meubels en ’n ou klavier by die Vaal Teknorama se ander gedeelte (Sedibeng Heritage Hall) wat eens aan dié wêreldbekende Vaaldriehoeker behoort het.

Oud-president FW de Klerk in aksie op die gholfbaan. Hy was lief vir die sport en het glo gereeld by Maccauvlei Golfklub gespeel. Foto: Verskaf

Die artefakte wat by die Teknorama uitgestal word, is deur FW en Marieke aan die Vaal Teknorama geskenk. Een van die belangrike memorabilia wat jy nie daar sal aantref nie, is die Nobelprys vir Vrede wat FW in 1993 gesamentlik saam met wyle oud-president Nelson Mandela ontvang het vir hul werk vir die vreedsame beëindiging van die apartheidsregering en vir die grondslag van ‘n nuwe demokratiese Suid-Afrika.

FW de Klerk en sy vrou, Marike de Klerk.

Volgens die museumgids is die Nobelprys uit die museum verwyder uit vrees dat dit daar gesteel sou word.

Die Nobel-vredesprys is reeds uit die museum verwyder uit vrees dat dit gesteel kan word.

Volgens Dave Stewart, wat Vaalweekblad namens die FW de Klerk-stigting te woord gestaan het, is feitlik alles van groot waarde ongeveer ’n jaar gelede uit die museum verwyder en beskou mnr. De Klerk en die FW de Klerk stigting nie die inbreak as ’n groot bekommernis nie.

 
https://vaalweekblad.com/92206/diewe-steel-glo-fw-se-goed-uit-museum/
 

   

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button