News

Vrystaatse vlaktes en die land gons oor Vredefort se boer Richann en sy Rene

Vrystaatse vlaktes en die land gons oor Vredefort se boer Richann en sy Rene

   

  Die gesegde lui: “As dit pap reën, moet jy skep.” Dit kan nie nader aan die waarheid wees vir Vredefort se boer, Richann Brüssow en sy René wat die land aan die gons het met hul eerste enkelsnit, “Vrystaat Vlaktes”. Dié treffer-lied het binne 24 uur die nommer een posisie behaal op die Apple Music trefferlys, asook in die iTunes algehele Top 30-trefferlys. Teen Maandag het die lied, wat van Vrydag af op alle digitale platforms beskikbaar was, steeds in dié twee posisies gepronk.

Die enkelsnit is Donderdag, 15 April bekendgestel net na die laaste episode, die reünie van die gewilde KykNet werklikheidsreeks, “Boer soek ’n vrou”, waar dié twee aangekondig het dat hulle steeds ’n paartjie is. Die 30-jarige Richann, het in René de Klerk (26), nie net ‘n pasmaat gevind nie, maar ook ‘n musiekmaat, en sing hulle nou saam onder die naam, “Reën”.

Die naam het gekom nadat hulle met die opname van die enkelsnit moes dink aan ‘n naam vir hul musiekgroep en toe op ‘n vraag oor wat alle boere wil hê, spontaan kon antwoord – reën. Boonop is dit ook ‘n skommeling van die letters in René se naam. In die lied bring hulle hulde aan die Vrystaatse Vlaktes wat hulle twee onwetend bymekaar uitgebring het, en is daar selfs so ietsie van hul “Boer soek ‘n vrou” ervaring in die lirieke wat deur Richann en René self geskryf is. Murray Lubbe en Shan Read het die melodie geskryf. Beide Richann en René maak al ‘n geruime tyd musiek uit die liefde van die saak, maar was dit eers toe hul mekaar raakgeloop het dat hul ontdek het tot watter hoogtes hulle saam kan gaan.

Trouens, Richann het al op “Boer soek ’n vrou” gepraat oor sy liefde vir musiek en nadat hy vir René gekies het, ook verklap dat hulle dit oorweeg om ‘n musiekgroep te begin omdat hulle dit so geniet om saam musiek te maak. Richann sê hulle is ongelooflik dankbaar vir almal se ondersteuning en positiewe kommentaar, maar ook baie gelukkig om ‘n ongelooflike span agter hulle te hê wat die ding dryf.

Die musiekvideo vir Richann en René se trefferlied, “Vrystaat Vlaktes” is tussen Vredefort en Parys verfilm, met Christian Wolf as vervaardiger. In die agtergrond kan die gerestoureerde 1980s SL-model Mercedes gesien word wat vir die video gebruik is. Richann en René sing onder die naam, ‘Reën. Foto’s: Christian Wolf

   

“Vrystaat Vlaktes” se musiekvideo is op 17 April eksklusief vrygestel op #KraakVars (kykNET NOU!) en binne enkele ure reeds meer as 10 000 keer gekyk op YouTube. “Wat ‘n ongelooflike voorreg! Dis so amazing om al die mooi boodskappe en terugvoer te lees. Ek voel so geseën en kan nie glo dat ‘Vrystaat Vlaktes’ so goed ontvang word nie. My hart loop oor van absolute dankbaarheid. Ek kan net dankie sê!, was René se reaksie. Richann se ouers is Heine en Marlene Brüssow van Vredefort.

Richann boer saam met sy pa met skilderbokke tussen Vredefort en Viljoenskroon, en doen klankopnames en musiekproduksie as ’n stokperdjie. Richann het naas sy laerskool musieklesse by Erna Rademan nie regtig formele musiekopleiding gehad nie, maaar het al ’n paar produksies gehad wat op verskeie radiostasies gespeel is.

René, het ook nie formele musiekopleiding nie. As kind het sy klavierlesse geneem, en kitaarles vir ‘n paar maande. Dit was haar skoolvriende wat haar eintlik gedwing het om ‘n oudisie vir haar hoërskool se a cappella-groep te doen.

René se ouers, Hannes en Eldorette, boer naby Winburg en is sy tans ’n junior lektor in politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies). Van “Reën” kan jy nog groot dinge te wagte wees met heelwat oorspronklike musiek in die nabye toekoms, sê Richann en René.  

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button