NewsNews

Die voordeur was te vet!

'n Voordeur wat nie kan sluit nie kan groot probleme afgee.

 

Dit was ‘n Saterdag in Junie so ‘n jaar of drie gelede. Vroeg-vroeg hoor ek dinge soos “ons sal ‘n ander slot vir die deur moet kry”, “die kaas is op” en “ek moes eintlik apteek toe gaan.”

Ek wou nie ry nie, maar gee toe in. “Ons moet vroeg ry, voordat die winkels te besig raak”. Die inkopietog verloop wonder bo wonder sonder enige insidente en ons maak dit terug huis toe binne ‘n uur.

Ek sit dadelik die rekenaar aan, terwyl Pa met die voordeur gaan karring om die nuwe slot op te sit. Die oue het die vorige dag uit die niet besluit om in te gee.

Al gou is ek verdiep in my werk. “Gerda, kom kyk bietjie hier,” hoor ek vir Pa. Ek neem aan hy praat met Ma. Ons het dieselfde name. Volgende oomblik staan Pa langs my. “Kom kyk gou hier by die deur. Ek het jou raad nodig.”Ek wonder so by myselwers, “wat op aarde weet ek van deurslotte af?”, maar staan nietemin op om te gaan kyk.

“Die ding”, sê Pa, “werk nie.” Hy het die nuwe slot op, maar dit sluit nie. Ek beloer die kosyn en sien die ou vasgeverfde slotplaatjie sit nog daar. “Miskien moet Pa hierdie ding afhaal en die nuwe een opsit,” verklaar ek. Pa is nie oortuig nie, en ek loop toe maar weer.

Ek werk voort totdat hongerpyne aankondig dis tyd vir middagete. Pa is besig met die boormasjien. Ek wag tot daar stilte is. “Hoe ver is Pa?” vra ek. “Jy kan maar die hotdogs gaan maak. Ek is nou klaar,” sy antwoord.

Die probleem verduidelik hy later vir my was dat die een of ander pennetjie nie by die ander punt uitgekom het nie. Pa het die probleem opgelos deur iets dieper in die deur te laat ingaan. Hy praat van “haarbreedtes” en “slotmeganismes”, waarop ek net instemmend knik. Al wat ek verstaan is dat die probleem opgelos is.

“Die voordeur was te vet,” kom Pa tot die slotsom. Ek lag. Ma kyk verbaas op. “Dis net in hierdie huis waar selfs die voordeur te vet is”, antwoord ek en loer na die drie ronde pekinesies wat rondom Ma se voete sit.

“Ag sies, hulle is babies. Hoe kan jy sê hulle is vet?” kom dit van Ma en daar gaan sy en haar kroos met die ronde magies kamer toe vir ‘n middagslapie.

Maar ja, hier rond het ons al ‘n oorgewig goudvis gehad en in ‘n stadium het Ma wildekatjies so vet gevoer die mense van die DBV het gesukkel om te glo hulle behoort nie aan haar nie! Hoe op dees aarde die voordeur te vet geword het, weet ek nou nie, maar dis ‘n ou huis en ‘n ou deur, hy het deur die jare seker te veel stof geëet.

Die voordeur was te vet!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button