Karretjie-plan sit kos op die tafel

Karretjie-plan sit kos op die tafel

   

Dit is R80 wat jy hier op die karretjie sien, sê Daniël Tladi as hy die vrag so bekyk. Maandag se bymekaarmaak wat kos op die tafel sit vir hom en sy vriende, Samuel Makhoyana en David Kgasmene.

Die karretjie-vrag waaraan hulle swaar stoot waar jy hul raakloop in Grensstraat, bestaan uit blik en plastiek wat hulle herwin het uit mense se vullissakke. Dit is nog vroegoggend maar dié vrag is hoog gelaai en moet nou gesorteer en verkoop word aan ‘n onderneming wat herwinbare materiaal koop. Dit is al drie jaar dat Daniël leef van dit wat hy uit vullissakke bymekaar maak om as herwinbare materiaal te verkoop. Harde werk, maar dit koop kos, sê hy.

Die karretjie wat hulle agter die fiets haak, het hy sowat vier maande gelede self gebou, sê hy trots. Die idee het hy gekry by nog ‘n entrepreneur wat gereeld in die strate van Parys gesien word waar hy met sy grassnyer en kantsnyer op ‘n waentjie agter sy fiets trap om by sy kliënte te kom. Met die sakke vol herwinbare materiaal wat soms net té swaar is om te dra, het Daniël besef dié karretjie-plan kan werk! Nou gaan dit sommer baie makliker om die vrag vervoer te kry.

Hulle is dankbaar vir elke leë blikkie en bottel, en waar mense vooraf dié herwinbare metaal en plastiek in ‘n aparte sak saam met hul vullis uitsit, maak dit dinge vir Daniël en soveel ander wat ‘n lewe uit herwinning maak makliker, want wat vir jou nutteloos mag lyk, sorg vanaand vir ‘n bord kos op iemand anders se tafel.    

Related Articles

Back to top button