NewsNews

Wees baie versigtig wie jy in jou erf en huis toelaat

Wees baie versigtig wie jy in jou erf en huis toelaat

 

 

Misdadigers gebruik enige slenter om toegang tot jou erf of huis te kry – soms só geloofwaardig en oortuigend dat hulle ys aan ’n eskimo kan verkoop.
Wees veral versigtig vir smouse wat in woongebiede rondbeweeg en enigiets vir jou tuin of huis aan jou wil verkoop. Dikwels vat hulle nie ‘nee’ vir ’n antwoord nie, en voor jy weet is hulle in jou erf, en jy van jou besittings kwyt.
As jou huis in die mark is, hetsy dit by ‘n eiendomsagentskap gelys is of net op die internet – moet jy veral bedag wees op die slenter waar diewe hulself as sogenaamde huiskopers voordoen, net om jou dan rot en kaal te besteel. Sulke voorvalle is ook al in Parys gerapporteer.
Die vermeende kopers kom kwansuis huis kyk en terwyl jy hulle ewe geesdriftig wys, vra een gewoonlik om die badkamer te gebruik, of lei jou aandag op een of ander manier af. Voor jy jou oë mooi kan uitvee is die huiskopers weg, en so ook jou juwele of ander waardevolle items waarop hulle hul hande vinnig kon lê terwyl daar “huis gekyk” is. Wees dus maar gewaarsku – moenie mense in jou huis toelaat sonder afspraak, of sonder dat jy weet wie jy in jou huis toelaat nie.
Maak ook seker jou huishulp, kinders of wie ook al by die huis is, weet as jy mense sou verwag by jou huis, hetsy om huis te kyk of herstelwerk te doen.
Wees ook gewaarsku – die diefstal van motorbattery en hekmotors is aan die orde van die dag.
Talle motoreienaars het al by hul geparkeerde motors gekom net om te sien dat die battery voete gekry het. Misdadigers is jou altyd een voor – so wees waaksaam en maak seker jy meld verdagte persone in jou omgewing sonder versuim by jou plaaslike polisiestasie aan.
Kyk ook uit vir voertuie wat onder verdagte omstandighede in ’n woonbuurt gesien sou word.
Skryf die fabrikaat, kleur en registrasienommer, en soveel moontlik detail van die insittendes neer, sodat jy volledige inligting kan gee wanneer jy dit by die polisie rapporteer.
Watter nommers skakel jy vir Parys SAPD?
056 816 2516
056 816 2519
071 675 9311

 

 

 

Related Articles

Back to top button