News

Bure kom tot egpaar se redding

Bure kom tot egpaar se redding

Om enkele dae nadat jy in ’n nuwe huis ingetrek het,  gewapende rowers in jou erf te kry, is genoeg om enige droom van ’n rustige aftrede in ’n oogwink in ‘n nagmerrie van vrees te verander.
Só vertel ’n Pretoriase egpaar oor die voorval helder oordag by hul huis naby die hospitaal in Oudewerfpark.
Hul trek het voorverlede Dinsdag gekom en Nico is die Saterdagoggend na 12:00 dorp om ’n paar goed vir die huis te kry. Terwyl Susan binne die huis by ’n venster doenig was, het sy die wit Chev Captiva stadig voor die huis sien verbyry, omdraai en toe teen die palisade hek sien stilhou. Die drie mans in die motor het kwansuis na ’n adres gesoek. Toe sy hulle nie kon help nie, het hulle gery, maar Susan was onrustig.
Toe Nico terugkom het sy gevra dat hulle ’n draai gaan ry om te kyk of hulle die voertuig sien. Net minder as ’n kilo van hul huis het hulle inderdaad die motor opgemerk. Hulle is om die verkeerssirkel en terug huis toe.
Maar in daardie minute wat hul weg was, het die mans, almal gewapen met handwapens, reeds die motorhek van sy spoor getel en voor die motorhuis parkeer met die bagasieruim teen die motorhuis.
Nico en Susan het agter hulle stilgehou en begin om aanhoudend die toeter te blaas om bure se aandag te trek.
Twee van die mans het Nico en Susan vasgegryp terwyl die derde man die afstandbeheer vir die motorhuis gekry en begin het om van die elektroniese ware uit die huis te dra. Die man het ook die egpaar se motor weggeskuif.
Susan vertel dat sy gegil het ten spyte daarvan dat die rower wat haar vasgehou het gedreig het om haar te skiet as sy nie stilbly nie. Dit was waarskynlik haar gille en die aanhoudende toeter-geraas wat ’n buurman en sy tuinier, en ’n tuinier wat oorkant hul huis werk, se aandag getrek het.
Toe die rowers die mans sien naderkom, het hulle weggejaag. “Al waaraan ek kon dink was, “dankie Here – ons hulp het gekom. Ek het nie vir een oomblik gewonder wat hulle vat nie,” sê sy.
Min het hulle kon dink dat so-iets in ’n plattelandse dorp met hulle kon gebeur nadat hulle vir 26 jaar in Pretoria nie eens ’n inbraak gehad het nie.
Maar daar was  lesse te leer uit die voorval, sê Susan. In retrospeksie moes hulle verbygery en hulp gekry het, pleks van stil te hou toe hulle die rowers in hul erf gesien het.
Al is die ontnugtering kort nadat hulle ingetrek het, groot, het hulle ook die goedheid van mense gesien, veral hul bure wat daar was om te help.
Jou bure is dikwels die mense wat eerste sien wanneer daar iets verdags in die omgewing is. Leer ken daarom jou bure. Maak seker jy het hulle nommers en dat hulle jou bewegings ken. Dat hulle weet wanneer jy nie daar is nie, of jou kan kontak sou hulle iets vreemds opmerk. Geen inligting is ooit waardeloos nie. Rapporteer dit by jou sekurteitsmaatskappy of die polisie.
Belangrikste is – wees waaksaam want misdadigers is uitgeslape.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button