
Ngwathe se stadsraad het verlede Woensdag die voorgestelde munisipale begroting vir die nuwe finansiële jaar vir openbare deelname deur die publiek goedgekeur. Die nuwe finansiële jaar begin op 1 Julie.
Ngwathe se tariewe sal styg met 4.1%, behalwe water (4.95%) en elektrisiteit wat, as gevolg van enorme Eskom-verhogings, styg met 20.0% (onderhewig aan goedkeuring deur Nersa). Afskrifte van die nuwe begrotingsvoorstelle is vir die publiek beskikbaar by alle munisipale kantore, en raadslede is beloof dit sal ook op die internet geplaas word by https://www.ngwathe.fs.gov.za ‘n Skedule van openbare raadplegings, onderhewig aan Covid-regulasies, behoort ook hier geplaas te word. Inwoners sal kan vrae vra, kommentaar lewer, en wysigings voorstel.
“As u vergaderings wil vermy weens Covid-19 kan u die begrotingsvoorstelle op die internet lees en dan reaksie epos na die munisipale bestuurder by jordaanr@ngwathe.co.za” sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel, DA-segsman oor munisipale finansies. DA-raadslede het in reaksie op die begroting gesê dat hulle graag meer besteding aan infrastruktuur soos strate, kragdrade, waterpype en -suiwering sou wou sien, maar dat munisipale inkomste onder groot druk is, en daar reeds té min geld is vir alle lopende uitgawes.
Volgens wet moet die stadsraad jaarliks voor of op 31 Januarie sy jaarverslag vir openbare bespreking goedkeur. Covid het dit egter vertraag, en die jaarverslag (tesame met die finansiële state, en die verslag van die Ouditeur-generaal) word nou, tesame met die konsep-begroting, aan inwoners voorgelê. Gazette sal later daaroor berig.




