NewsNews

Skelm gebruik student as lokval vir sy slenter

Skelm gebruik student as lokval vir sy slenter

 

 

n Student is onlangs onwetend by ‘n slenter betrek wat motors op Facebook adverteer.

Die slenter behels dat sy foto-advertensies van motors wat te koop is op haar Facebook-profiel laai en wanneer belangstellendes haar kontak, sy hulle weer na die verkoper verwys. Die verkoper verwag dan van die potensiële kopers om ‘n deposito te betaal.

Die student was bereid om anoniem met Parys Gazette se susterskoerant, die Herald oor die voorval te praat, omdat sy ander so wil waarsku. Sy is versigtig om haar identiteit bekend te maak juis omdat sy die skuldiges met die polisie gedreig het en hulle al haar persoonlike inligting het.

Sy vertel dat sy dringend werk gesoek het, want na die inperking kon haar ouers slegs haar verblyf in Potchefstroom betaal, maar nie haar kosgeld nie. Sy het elke werkgeleentheid aangegryp. “Ek het oral uitgekyk vir werk en my CV uitgestuur wanneer ‘n geleentheid opduik,” vertel sy.

Volgens die student het die man met wie sy gepraat het hom voorgedoen as iemand wat kommersiële banke help om voertuie wat teruggeneem word, te verkoop. Die man het aan haar verduidelik dat die banke die voertuie terugneem wanneer ‘n koper nie meer hul paaiement kan bekostig nie. “Ek was nogal verbaas toe ek so vinnig terugvoering kry nadat ek my CV aan die man gestuur het, maar het geen vuilspel vermoed nie. Hy het gesê dat hy met die Facebook advertensie meer mense kan bereik en dat ek 20% kommissie sal kry wanneer die motor verkoop. Hy het gesê dat hy elke keer vir my ‘n foto sal stuur van ‘n motor wat ek net op my Facebook-profiel moet laai,” sê sy.

“Ek was aanvanklik baie opgewonde omdat daar baie belangstelling was in die voertuie en ek ‘n hele paar potensiële kopers na die man verwys het. Ek het egter onraad begin vermoed toe die potensiële kopers my teruggebel het om te vra waarom hulle ‘n deposito moet betaal. Ek het glad nie daarvan geweet nie,” sê die student.

Die deposito is juis die slenter waarmee die man die mense uitvang. ‘n Motor word teen ‘n spotgoedkoop prys geadverteer. Een van die advertensies is ‘n 2015 model Ford Ecosport wat teen R65 000 geadverteer is. Wanneer ‘n potensiële koper die man bel, word daar aan die koper vertel dat baie mense in die voertuig belangstel, maar wanneer hulle R30 000 deposito betaal, word die transaksie aan hulle toegeken.

’n Voorbeeld van so ‘n advertensie op Facebook. Let op dat die nommerplaat uitgehaal is. Foto’s: Verskaf

‘n Potchefstroomse vrou wat belang gestel het om die motor te koop, het die verkoper gevra waar die voertuig was, waarna die man ‘n adres in Potchefstroom gegee het. Die vrou het toe die adres opgesoek en op ‘n leë gebou in die nywerheidsgebied afgekom. Geen motor was in sig nie. Dit was juis sy wat die Herald oor die slenter ingelig het en die student gevra het om saam te werk dat die slenter bekend gemaak moet word.

Die student vertel dat die verkoper uitgevang is dat hy gelieg het. Vir twee familielede wat die verkoper afsonderlik gebel en oor die voertuig uitgevra het, het hy verskillende inligting gegee. “Die verkoper het vir die een man gesê hy bly in Rustenburg en weer aan die ander persoon dat hy in Johannesburg gestasioneer is.”

Die student vertel ook dat die man nooit terugvoering aan haar gegee het nie. “Ek het ‘n hele paar voertuie geadverteer, maar het nooit kommissie ontvang nie. Hy het my ook nooit op hoogte gehou van die transaksies nie.” Nadat sy hom later oor die deposito, sy leuens oor die plek waar hy bly en die vals adres van die motor gekonfronteer het, het sy weer die advertensie van die werksaanbod opgesoek. Dit was glad nie meer op Facebook beskikbaar nie. Die verkoper het haar ook op sy selfoon geblok.

Die vrou wat die slenter onder die aandag van die Herald gebring het, sê sy was verder agterdogtig oor die foto’s van die motors wat geadverteer word. Sy het opgelet dat daar slegs een foto van ‘n voertuig, meestal van agter af, geneem is en dat nie een van die advertensies die binnekant van die motor wys nie. In sommige advertensies is die nommerplaat uitgevee of uitgekrap of op so ‘n hoek geneem dat dit nie duidelik sigbaar is nie. “Hierdie mense neem foto’s van motors waar hulle dit ook al kry, en maak dan advertensies daarvan,” sê sy.

Die student wil graag ander mense wat desperaat is om ekstra geld te verdien, waarsku teen die Facebook geldmaakslenter en sê dat haar Facebook-profiel slegs gebruik was om vertroue by potensiële kopers in te boesem.

Kenners wat waarsku teen sosiale media slenters sê daar is gewoonlik twee tipiese kenmerke van ‘n slenter waarop jy ingestel moet wees. Eerstens word mense gelok deur iets wat amper te goed is om waar te wees en tweedens word jy gedwing om vinnig, impulsief ‘n besluit te neem sonder om daaroor na te dink. In hierdie geval was die besondere lae prys van die motor te goed om waar te wees en is die vinnige betaling van die deposito om nie jou kans op die transaksie te verbeur nie, die vinnige impulsiewe besluit waarmee skelms jou wil vang.

 

Related Articles

Back to top button