Só werk dit met dispute op jou munisipale rekening

Só werk dit met dispute op jou munisipale rekening

 

Die Ngwathe munisipaliteit het sy invordering van uitstaande skuld op munisipale rekeninge verder verskerp. Volgens Vryheidsfront Plus rdl. Phillip van der Merwe, word die munisipaliteit nou, meer as ooit, daartoe gedwing om wanbetalers aan te spreek, omdat Ngwathe tans verplig is om sy hele maandelikse Eskom-rekening stiptelik ten volle te betaal. Gebeur dit nie, sal Eskom eenvoudig die kragtoevoer aan die munisipaliteit staak of só beperk dat dit nie alleen onvolhoubaar sal wees om ‘n besigheid in enige van sy dorpe te bedryf nie, maar ook ‘n groot impak sal hê op die voorsiening van water en rioleringsdienste aan inwoners.

Daar is tans invorderingsprogramme in proses in al die Ngwathe dorpe waarin rekeninge wat langer as 90 dae uitstaande is, geteiken word, beide in die sakesektore en die woongebiede. Indien betalingsreëlings nie getref word wanneer ‘n verbruiker van dreigende optrede om kragtoevoer te sny in kennis gestel word nie, word kragtoevoer wel gestaak. Maar dit is juis waar dit kom by die punt waar kragtoevoer gesny moet word, dat daar probleme is aan beide kante. Die munisipaliteit sê sekuriteitsmaat-reëls soos omheinings en elektriese hekke maak dit moeilik om kennisgewings aan verbruikers te oorhandig, terwyl verbruikers weer baie probleme ervaar met foutiewe rekeninge wat in gevalle dan ook juis weer daaraan te wyte is dat meterlesers nie altyd toegang tot meters kan hê om lesings te neem nie. Skattings, meermale egter onakkuraat, word dan gebruik om rekeninge saam te stel.

Wat staan die verbruiker te doen?

In gevalle waar daar foutiewe rekenings is, moet ‘n formele dispuut met die munisipaliteit verklaar word oor die items op jou rekening waar daar nie ooreenstemming is nie. Daar is ‘n formele dokument beskikbaar vir die doel by die munisipale kantore waarin die proses uiteengesit word, en die basis vir die dispuut ingevul kan word. Rdl. Van der Merwe waarsku egter dat verbruikers baie keer geneig is om op te hou om hul totale rekening te betaal wanneer hulle byvoorbeeld nie saamstem met die heffings vir water op ‘n rekening nie. Dit is fataal, sê hy, en verduidelik dat die gedeeltes van die rekening wat nie in geskil geplaas word nie, deurentyd voluit betaal moet word om te verhoed dat kredietbeheerstappe gedoen word. Ingevolge die reëls van die dispuutproses moet die munisipaliteit die dispuut binne 30 werksdae hanteer en tot ‘n bevinding kom wat dan ook aan die verbruiker gekommunikeer moet word. Sou die verbruiker nie die bevinding aanvaar nie, is daar ook ‘n appélproses wat dan binne 30 dae na die aanvanklike bevinding geïnisieer moet word. ‘n Formele appélvorm is ook vir die doel beskikbaar. Die Munisipale Stelselswet bepaal uitdruklik dat ‘n munisipaliteit nie invorderingstappe mag neem van ‘n item op ‘n rekening wat in dispuut is nie.

Dit moet duidelik verstaan word dat diesulke stappe wel geneem kan word om betaling af te dwing van die res van die rekening wat nie deel vorm van die dispuut nie. Rdl. Van der Merwe waarsku verder dat verbruikers wat items op hul rekeninge betwis nie moet wag tot die munisipaliteit dreig om dienste te staak voordat hulle aksie neem nie. “Verklaar jou dispuut sodra jy ‘n rekening ontvang wat heffings bevat waarmee jy nie saamstem nie. Voltooi ook die vorm in duplikaat en laat jou afskrif by indiening stempel met ‘n datumstempel as bewys van ontvangs. Onthou jy kan nie ‘n dispuut teen ‘n totale rekening in algemene terme verklaar nie, voeg hy by. Nog ‘n probleem wat gereeld voorkom is dat verbruikers nie rekeninge ontvang nie, en dan glo hulle hoef eenvoudig niks te betaal nie. “Dit is nie so nie – jy behoort ‘n rekening aan te vra as jy nie een kry nie. Rekeninge kan by munisipale kantore of per e-pos aangevra word by billing@ngwathe.co.za”, is rdl. Van der Merwe se raad.    

Related Articles

Back to top button