NewsNews

Eerste vroue adjunkhoof vir Parys Primêr

Eerste vroue adjunkhoof vir Parys Primêr

             

Of dit nou op ‘n Voortrekkerkamp, in die klaskamer, of agter die rekenaar is besig om punte in te lees, juffrou Allezeth Ribberink se hande vat raak! Die bekende en geliefde juffrou van Parys Primêre skool is die afgelope week amptelik as adjunkhoof van die skool aangestel. Sy is ook die eerste vrou in dié pos. Die pos het vakant geraak nadat mnr. Gresse wat die pos beklee het, waargeneem het as skoolhoof tot en met sy aftrede einde 2019. Parys Primêr was die eerste skool waar Allezeth begin skoolhou het in 1986. As groentjie juffrou het sy Sotho en naaldwerk vir die graad 7’s gegee.

Oor die jare moes sy al van Afrikaans en sosiale wetenskappe vir die graad 4,5 en 6’s, tot kuns en lewensvaardighede gee, en was sy selfs in ‘n stadium die hele skool se Sotho- en naaldwerk juffrou. “Eendag voor ek ophou skoolgee, moet ek nog wiskunde gee,” sê sy met ‘n vonkel in die oog. Allezeth gee tans Sotho vir die graad 1-3 klasse en vertel dat Sotho soos Afrikaans, deel is van haar lyf. Sy’t destyds leer Sotho praat as plaaskind in die Oos-Vrystaat. S

aam met die ander plaaskinders het hulle in Sotho gespeel. Hoewel sy toe nog nie die taal kon lees en skryf nie, kon sy Sotho vlot praat. Op universiteit het sy die taal ook leer lees en skryf en is sy vandag selfs Tswana en ‘n bietjie Zoeloe magtig. Sy lag lekker as sy vertel hoe sy as groentjie so met die instap by die skool gedink het – hier gaan ek nie lank bly nie, toe die skoolhoof, mnr. Potgieter, met baadjie en hoed haar haar klas gaan wys het. Vier en dertig jaar later is sy steeds deel van die skool. “Dis my liefde,” vertel sy trots en gesels oor hoe die skool oor die jare gegroei het.

“Ons het ‘n mooi skool. Ons terrein is mooi. Ons het met ‘n groen bord en kryt begin en vandag spog die skool met van die nuutste tegnologie in die klaskamer, maar ons waardes het oor die jare dieselfde gebly. Ek hoop dat ek vir nog ‘n hele paar jaar in Parys Primêr kan belê,” sê dié juffrou met die spontane glimlag en omgeehart.

Sy het in die 2 000’s departementshoof van sosiale wetenskappe geword en haar bevordering tot adjunkhoof by die skool waar sy haar oor die jare kon uitleef, is ‘n besondere mylpaal in haar loopbaan.    

Related Articles

Back to top button