News

Vrou erg beseer na vier skote in hoewe-aanval

Vrou erg beseer na vier skote in hoewe-aanval

 

Vereeniging – “Dit lyk of Corlene se aanvallers nie beplan het om te steel nie. Dit wil voorkom of hulle net gegaan het om haar leed aan te doen en dood te maak… lewens te verwoes en families te knak.”

 

”Só sê mev. Jorinda Laubscher oor die skokkende roofaanval verlede Maandag op haar suster, mev. Corlene van Wyk (42) van die hoewe Jakkalsrand in die Houtkop-omgewing. Hoewel die rowers Corlene vir dood agtergelaat het, het sy die aanval oorleef en word tans vir drie koeëlwonde, harsingskudding en verskeie snywonde aan haar bors en maag in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton behandel. Hoewel sy erg beseer is, is sy by haar bewussyn en kon reeds die buitelyne van haar skokkende ervaring aan Jorinda vertel. “Sy sê twee mans het haar buite hul huis oorrompel toe sy wou gaan kyk of die wasgoed al droog is. Een het haar van die stoep se trappe afgestamp. Terwyl een man haar buite aangerand het, het die tweede man in die huis ingegaan en alles wat in die kaste en laaie was, uitgegooi.

 

“Toe die man uit die huis kom, het hy eenvoudig na haar toe geloop en haar deur die been geskiet. Hy het ‘n tweede en derde skoot geskiet wat haar deur die hand getref het. Die vierde skoot was na haar kop gemik, maar haar gebede is verhoor. Sy het gebid om net lewend daaruit te kom. Die skoot het haar rakelings gemis, met net ‘n skraapwond langs haar kop,” sê Jorinda   .“Na die laaste skoot het sy haar beseerde hand oor haar gesig gesit. Bloed uit die koeëlwonde aan haar hand het oor haar gesig gestroom, wat die aanvallers vermoedelik laat dink het dat sy in die gesig getref is. Sy het doodstil bly lê, waarna die aanvallers gehardloop het vir die koppies sonder om iets te steel. Die rowers was aanvanklik dalk op soek na vuurwapens, maar hul motief is in dié stadium onbekend.” Corlene was ten tyde van die aanval alleen by die huis. Haar seun was by die skool en haar man by die werk. Nadat die rowers weg is, kon sy daarin slaag om haar man te bel om hulp te ontbied. Sy is na die Netcare Unie-hospitaal vervoer, waar sy die volgende dag geopereer is. Sy was Vrydag weer in die teater en nog operasies sal moontlik hierdie week volg.

 
“Corlene is ‘n pragtige, dierbare mens wat niemand ooit leed aandoen nie. Ons voel die gemeenskap moet ingelig word oor die voorval sodat hulle hulself kan beveilig en daar nie nóg mense deur sulke trauma hoef te gaan nie,” sê Jorinda.
* Toe die gemeenskap die middag van die voorval hoor, het plaaslike boere en lede van sekuriteitsgroepe in die gebied dadelik na die rowers begin soek. Daar was baie stof op die paaie weens al die voertuie wat aan die soektog deelgeneem het, met gevolg dat mnr. Ben Pretorius, wat sy kleindogter Bernice (13) by die skool gaan haal het, se voertuig tromp-op gebots het teen een van die bakkies wat in die soektog gebruik is.
Volgens mnr. Werner Vermaak, ‘n woordvoerder van ER24, is die 70-jarige mnr. Pretorius en Bernice met ernstige besering per noodhelikopter hospitaal toe vervoer. Hulle word in dieselfde hospitaal behandel waar Corlene tans aansterk. Bernice maak goeie vordering maar mnr. Pretorius is steeds in ‘n kritieke toestand in die intensiewe sorgeenheid. 
 
https://vaalweekblad.com/89778/vrou-erg-beseer-na-vier-skote-in-hoewe-aanval-2/
 
 
  

Related Articles

Back to top button