Aarduur: Dink aan dié ywerige werkers wat ons ekosisteem in balans hou

Aarduur: Dink aan dié ywerige werkers wat ons ekosisteem in balans hou

     

Miljoene huishoudings en sakeondernemings wêreldwyd sal vandag, Saterdag, 27 Maart, hul ligte afskakel om Aarduur, die jaarlikse omgewingsveldtog wat die aandag op die uitwerking van klimaatsverandering vestig, te herdenk.

Soos alles van huishoudings en kantoorblokke tot die Sydney Operahuis en die Eiffeltoring in donkerte gehul word, skyn Aarduur ‘n simboliese lig op die kwessies wat ons planeet in die gesig staar, en werf so steun vir ekologiese vraagstukke. Hierdie uur sonder kraggebruik, wat Saterdag om 20:00 begin, het tradisioneel gefokus op die bewaring van energie en om die verwoestende uitwerking van klimaatsverandering teen te werk. Maar vir Candide, die gratis tuinmaaktoepassing wat tuinliefhebbers oor Suid-Afrika heen verbind, het dit ‘n dieper boodskap en doel.

“Ons is daaraan toegewy om elke enkele bydraer tot ons groen landskap en tuine, hoe klein ook al, te ondersteun en te beskerm,” verduidelik Roné de Bruyn, distriksbestuurder van Candide ZA. “‘n Noodsaaklike deel van hierdie ekosisteem is ons naglewende bestuiwers, soogdiere en insekte wat al die harde werk doen terwyl almal anders slaap.” Hierdie klein wesens is toenemend onder druk. Hul gedrag en roetines word konstant deur ‘n hele reeks menslike aktiwiteite ontwrig, insluitend kunsmatige beligting snags. Aangesien hulle in die donker leef, sien ons hulle dikwels nie raak nie, maar hulle is daar. Trouens, natuurkundiges wys daarop dat die biologiese aktiwiteit van ons fauna snags meer intens is, en dit is ‘n bekende feit dat die helfte van ons miljoene insekte naglewend is. Aarduur is ‘n geleentheid om die aandag te vestig op die gevare wat hierdie diertjies in die gesig staar. Die beskerming van ons bestuiwerpopulasie is ‘n permanente missie vir Candide.

So is die #PolliNationSA-veldtog op Wêreldbyedag op 20 Mei 2020 bekendgestel. Hierdie twaalf maande lange veldtog poog om dié klein insekte te ondersteun deur Suid-Afrikaners te motiveer en aan te moedig om byvriendelike blomme en plante te plant. Al wat ‘n mens nodig het, is die Candide-toepassing en ‘n bestuiwervriendelike plant, wat hierdie ‘n inisiatief maak wat almal behoort te inspireer om van deel te word. Sluit só by die beweging aan:

1. Laai die Candide-toepassing af.

2. Neem ‘n foto van ‘n bestuiwervriendelike plant of blom wat in jou tuin of op jou stoep, vensterbank of balkon groei.

3. Plaas die foto en gebruik die hutsmerk #PolliNationSA.

4. As beloning sal jy ‘n #PolliNationSA-ikoon ontvang wat jy by jou profielfoto kan voeg. Ligbesoedeling – só beïnvloed dit bestuiwers Ligbesoedeling beïnvloed bestuiwers op verskillende maniere. Dit maak hulle sigbaar vir predatore, meng met hul sin vir rigting in, beperk hul jagvermoë, verminder die tyd wat hulle kos, skuiling of maats kan vind, lok hulle na hul dood en verberg paringseine.

Kunsmatige lig verander en meng ook in met die tydsberekening van noodsaaklike biologiese aktiwiteite, en dit skep massaverwarring wat bestuiwers verskrik en keer dat hulle hul werk doen. In kort, onsensitiewe nagbeligting het ‘n ernstig impak op naglewende insekte en word as een van die hoofredes beskou waarom ons ‘n vinnige afname in insekbevolkings wêreldwyd en nog meer bekommerenswaardig, ‘n afname in bestuiwers, die einste diertjies wie se verantwoordelikheid dit is om te verseker dat ons vars vrugte en groente op ons tafels het, sien. “Ons glo dat kunsmatige lig in die nag – saam met habitatverlies, chemiese besoedeling, indringerspesies en klimaatsverandering – die rede vir die afname in insekgetalle is,” is die gevolgtrekking waartoe wetenskaplikes wat by ‘n beoordeling van meer as 150 studies betrokke was, gekom het. “Ons is van mening dat kunsmatige lig in die nag nog ‘n belangrike rede – wat dikwels misgekyk word – vir die insek-apokalips is.”

“Ligbesoedeling kan relatief maklik voorkom word,” voeg De Bruyn by. “Al wat nodig is, is ‘n bietjie toewyding en besorgdheid, en ‘n begeerte om ou gewoontes te verander.” Jy kan dit doen deur onnodige buiteligte af te skakel en nie gekleurde ligte, of ligte met ‘n fel skynsel, in jou tuin te installeer nie.

Deur net insekvriendelike gloeilampe te gebruik, kan jy verseker dat watermassas en natuurgebiede ligvry en bestuiwervriendelik is. Wanneer jy dus jou ligte tydens Aarduur afskakel, dink hoe jy dié tydelike gedrag in iets meer permanent kan verander. Elke nag, buite voorstedelike vensters, in miljoene tuine wêreldwyd, is ‘n magdom ywerige werkers besig om alles in hul vermoë te doen om ons brose ekosisteem in balans te hou. Ons behoort dinge so maklik as moontlik vir hulle te maak, en wat kan makliker wees as om te verseker dat jou nagbeligting minder skadelik is?

Vir meer inligting besoek www.candide.co.za, stuur ‘n e-pos na hello@candide.co.za en volg @candideappza op Instagram en Facebook. As jy nog nie Candide afgelaai het nie – die toepassing is gratis beskikbaar in die Apple App Store en Google Play Store.    

Related Articles

Back to top button