News

Seun sterf na elektriese skok

Seun sterf na elektriese skok

Twee weke nadat haar seun doodgeskok is, het Elmarie Meyer eers die moed gehad om met Parys Gazette se susterskoerant, die Potchefstroom Herald, oor die voorval te praat. Ziets Meyer (22), ‘n oudleerling van Ferdies, het Saterdagoggend, 6 Maart probeer om sy ma se elektriese stoof reg te maak toe die tragiese ongeluk gebeur het. Hy was haar enigste kind en sy het hom as  enkelouer grootgemaak.

Elmarie herstel tans na ‘n rugoperasie by haar suster omdat haar seun nie meer daar is om haar rond te ry en help versorg nie. Sy is kalm en groet vriendelik, maar waarsku dat sy dalk voor my kan huil. Sy gesels met groot trots oor haar seun. “Ziets was ‘n regte nutsman. Ek het altyd gespot en hom my ‘fixer’ genoem omdat hy altyd stukkende goed reggemaak het,” vertel Elmarie. Sy sê hy het by sy oom, Willie van Staden, geleer om dinge reg te maak en het van kleins af sy speelgoed uitmekaar gehaal om dit weer aanmekaar te sit.

“In dieselfde week wat die ongeluk gebeur het, het ek gekla dat my tuimeldroër snaakse geluide maak en toe ek dit later weer gebruik, was die geraas weg. Hy het dit dadelik reggemaak.” Ziets het by Car Track gewerk. Hy het toestelle in voertuie geïnstalleer om jou voertuig op jou selfoon te monitor – hoe vinnig dit ry en om dit op te spoor indien dit gesteel word. Hy was ook ‘n gekwalifiseerde dieselwerktuigkundige.

“Dit was nie vreemd toe hy voorstel om die stoof reg te maak nie, maar ek het hom afgeraai omdat dit sy naweek af was en ek nie wou hê hy moet werk nie. Ons het vir lank by die militêre basis gebly omdat ek by die weermag werk. Daar moes ons self alles regmaak wat stukkend was en het Ziets altyd die ‘fixing’ gedoen.

Ek het gesê ek sal Maandag die opsigter oor die stukkende stoof in kennis stel, maar toe ek weer my oë uitvee was hy in die kombuis doenig,” vertel Elmarie.

Sy het geweet iets is fout toe hy skielik hard roep: “Maaaa!” Elmarie het dadelik van die bed af opgespring: “Ek het blitse in die kombuis gesien toe ek in die gang afhardloop en toe ek by hom kom, het hy op die plaat gelê wat hy agter die stoof afgehaal het. Hy het die heeltyd geruk en vreemde geluide gemaak. Ek het hom toe van die plaat afgehaal en dadelik die bure geroep wat gehelp het om ER24 te bel.” Elmarie vertel dat die nooddienste baie vinnig op die toneel was, maar dat hulle niks vir Ziets kon doen nie.

Sy word ‘n oomblik stil en sit haar hand voor haar gesig om haar hartseer weg te steek. Dan sê sy: “Dit was Ziets se tyd. Dit was ‘n ongeluk en ek neem niemand kwalik vir dit wat gebeur het nie.”

Ek is verbaas dat sy nie kwaad is oor die ongeluk nie, maar dan help sy my reg en sê dat sy aanvanklik baie kwaad was. “Ek was só kwaad vir die Here. Ek het eintlik baie skuldig hieroor gevoel. Ek was kwaad omdat die Here my enigste kind van my af weggevat het. ‘n Seun wat so lief was vir sy ma en so baie omgegee het vir ander mense,” sê Elmarie.

En dan vertel sy dat sy berusting gevind het nadat ‘n kapelaan van die weermag, Moses Moaisi van 4-Artillerie Regiment, by haar besoek afgelê het. Sy het hom vertel dat sy kwaad is vir die Here en dat sy baie skuldig hieroor voel, maar hy het haar gerusgestel dat sy maar, met respek, kwaad mag wees. Hy het haar herinner dat God haar pa is en dat alle kinders een of ander tyd kwaad word vir hulle pa en dat dit normaal is. Moaisi het ook vir haar gesê sy moet nie meer vrae vra nie, omdat dit haar kind sal verhinder om rus te vind.

“Toe Moaisi klaar was met sy huisbesoek, het ek sommer ligter gevoel en was die bedruktheid in my bors sommer weg,” vertel sy. Ek sou verder glad nie die hartseer kon verwerk as ek nie so ‘n wonderlike familie gehad het wat my so baie ondersteun nie. My suster en swaer, Sanmarie en Willie van Staden en hulle dogter, Montez (19) is steunpilare en het my met liefde in hulle huis geneem. Ek voel selfs ek is gereed om weer na my woonstel toe terug te trek.”

Met die roudiens kon Elmarie nie glo Ziets het so baie vriende gehad nie. “Daar het meer as een kind na my toe gekom wat vertel het watter wonderlike positiewe invloed Ziets in hul lewens gehad het, veral as hulle af of selfs depressief was. Ziets kon sien wanneer iemand spesiale aandag nodig het en het uitgereik na ander.”

Net voor ek vertrek, vertel Elmarie dat sy nie bygelowig is nie, maar dat sy glo sy het ‘n teken van haar Hemelse Vader gekry oor die welstand van haar seun. Sy het een aand laat by haar suster om ‘n braaivleisvuur gesit en ‘n klein naaldekoker het naby haar kom sit. “Dit was vreemd omdat naaldekokers gewoonlik nie in die aand vlieg nie. Selfs as ons nader gekom het, het die naaldekoker nie gevlieg nie,” vertel sy. Toe sy later vir interessantheid die simboliek van ‘n naaldekoker opsoek, staan daar sowaar dat die naaldekoker verandering en transformasie simboliseer en dat dit ‘n herinnering is dat jy lig en geluk moet uitstraal.

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button