News

Welverdiende ruskans vir Willien

Welverdiende ruskans vir Willien

Willien Diedericks wat sedert 2007 ‘n maatskaplike werker by Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) was, het einde Februarie die tuig neergelê vir ‘n welverdiende ruskans. As ouma van ses sal sy nou die tyd saam met haar kleinkinders kan geniet, en help sy haar man in hul winkel, Vredefort Algemene Handelaars. Willien is op 1 Junie 2007 by VVA Parys aangestel met die opdrag dat sy ook diens in Vredefort moet doen.

Sy het destyds die graad B.A. maatskaplike werk (hons.) aan die Potchefstroomse Universiteit se Noordwes-kampus behaal. Sy het vier jaar by die AGS Welsynsraad in Johannesburg as maatskaplike werker diens gedoen, waarna sy by CMR in Fochville en Pietersburg gewerk het. Na haar oudste seun se geboorte verwerf sy ook haar Hoër Onderwysdiploma (H.O.D.) en het vir 18 jaar by verskeie skole, waaronder Swartkop Hoër, Kuscke Landbou Skool en Kanonkop Hoërskool in Middelburg, skoolgehou. In Middelburg het sy die voorreg gehad om haar kinders te kon grootmaak. Die Gerda Botha Prestasietoekenning vir Maatskaplike werk wat sy in 2020 ontvang het, het die kroon gespan op 14 jaar se diens by VVA in beide Parys en Vredefort.

Sover bekend was dit die eerste keer dat ‘n maatskaplike werker van Parys en Vredefort die toekenning ontvang. Die kriteria vir die toekenning sentreer rondom volgehoue prestasie, meer as wat normaalweg van professionele maatskaplike werkers verwag word. Deur die jare het Willien verskeie projekte met kreatiewe beplanning en toewyding geloods, waaronder ‘n groot tweedehandse klerewinkel, die sop-en-broodjie-projek, skilderklasse, kosdemonstrasies, Sotho oumas wat geleer is om te lees, naaldwerkopleiding, berading deur ‘n derdejaar-sielkunde student, ouerskapsplanne en nuwe idees met speelgroepe. Willien was die afgelope twee jaar ook die kantoorhoof van VVA Parys. Vir Willien was maatskaplike werk nie net ‘n beroep nie, maar ‘n roeping.

Noudat sy afgetree het, sê Willien probeer sy elke dag voluit lewe tot eer van die Here en om haar naaste sover moontlik te dien. VVA sal in April ‘n aanstelling in die pos maak.  

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button