News

21 keer met mes gesteek toe sy verhouding beëindig

Potchefstroom – Nadine Steenbok (32) se kêrel het haar 21 keer met ‘n mes gesteek toe sy haar toksiese verhouding met hom beëindig het.   Sy het na die traumatiese gebeure  vir langer as ‘n week in die Potchefstroom Hospitaal aangesterk waar sy vir haar wonde behandel is en ook psigiatriese behandeling ontvang het. Nadine …

Potchefstroom – Nadine Steenbok (32) se kêrel het haar 21 keer met ‘n mes gesteek toe sy haar toksiese verhouding met hom beëindig het.

  Sy het na die traumatiese gebeure  vir langer as ‘n week in die Potchefstroom Hospitaal aangesterk waar sy vir haar wonde behandel is en ook psigiatriese behandeling ontvang het. Nadine is intussen ontslaan en sterk nou by haar niggie aan. Vir Nadine is dit nou belangrik dat jong vrouens uit haar ondervinding moet leer. Volgens kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder in die Noordwes, word Jacob Ntlapho, (44), ‘n taxibestuurder van Promosa, vir aanranding met die opset om ernstig te beseer, aangekla. Hy het op 24 Februarie sy eerste hofverskyning gemaak. Haar angswekkende aanval het nie alleen letsels op haar vel gelaat nie, maar haar psigologiese letsels sal veel langer neem om te genees. Sy vertel dat sy Jacob twee en ‘n half jaar gelede ontmoet het toe hy haar gereeld by haar werk in Miederpark afgelaai het. “Hy was ‘n rustige mens, maar sy vriende het gewaarsku dat ek nie ‘n verhouding met hom moet aanknoop nie, want hulle wou nie hê ek moet seerkry nie,” sê sy. Na ‘n ruk het Jacob verander. Hy was baie manipulerend en wou my net vir homself hê. Ek het drie kinders, maar hulle moes by my niggie bly omdat hy niks met hulle te doen wou hê nie. Hy wou nie eens hê ek moet vir hulle of vir my familie gaan kuier nie,” vertel sy.

Wanneer Jacob gedrink het, het hy aggressief geword en haar geslaan. “Ek het al vorige kere probeer om die verhouding te beëindig en het dan by my familie gaan bly. Sy ma het my elke keer kom soek en gesmeek om weer terug te kom, omdat hy homself in sy kamer toesluit en niks met enige iemand te doen wou hê nie,” vertel Nadine. Volgens haar het die verhouding net al hoe meer toksies geword en het hy ook verhoudings met ander vrouens begin aanknoop. Sy het finaal besluit om die verhouding te beëindig en het die naweek van 13 en 14 Februarie al haar meubels uit sy huis getrek. Die Sondagaand het Jacob saam met die polisie by haar niggie opgedaag en Nadine daarvan beskuldig dat sy, sy meubels gesteel het. Nadine het toe aan die polisie verduidelik dat dit haar meubels was en dat sy nog net haar klere by hom moet gaan haal. Jacob het daarop aangedring dat sy haar sleutels van hulle huis aan hom moet teruggee, wat sy toe gedoen het. Sy het ook aan hom en die polisie gesê dat sy die volgende dag, wanneer sy klaar gewerk het, haar klere by hom sal gaan haal. Nadine het die volgende dag by Jacob se huis opgedaag. Sy wou nie alleen gaan nie omdat sy bang was en het ‘n neef en niggie van haar saamgeneem. Haar niggie het vir haar in die sitkamer gewag en haar neef buite in sy taxi terwyl Nadine haar klere in die kamer gepak het. “Jacob het ‘n paar keer in die kamer ingekom en wou by my weet of ek seker is ek gaan finaal loop,” sê Nadine. Sy het elke keer bevestig dat sy finaal uittrek. Hy was baie onrustig en senuweeagtig en het heen en weer geloop.

Dan was hy in die huis en dan was hy buite. Toe hy weer inkom, het hy sy hemp opgelig en ‘n mes uitgetrek wat in sy broek was. Hy het my toe daarmee begin steek.” Nadine het begin skree, waarna haar niggie en Jacob se ma na die kamer toe gehardloop het om hom te keer. “Ek het agter sy ma probeer skuil, maar toe ek uit die huis probeer hardloop, het hy my van agter aan my hare gegryp en my verder op my rug gesteek,” vertel sy stadig en afgemete. Die diep snymerke op haar hande is duidelik sigbaar soos wat sy probeer het om te keer.

Steekmerke aan Nadine se bors. Foto: Venessa van der Westhuizen

“My niggie het uitgehardloop en buite probeer hulp kry.” Nadine het uiteindelik losgekom en na buite gehardloop. Haar niggie en neef het haar in die neef se taxi gelaai en met haar na Promosa kliniek gejaag waar haar toestand gestabiliseer is voordat die ambulans haar na die hospitaal vervoer het. Nadine wil graag aan alle vrouens sê dat dit nie die moeite werd is om in ‘n verhouding te bly waar jy mishandel word nie en dat jy eerder gouer as later die verhouding moet beëindig. Luister ook na mense wat jou teen iemand waarsku. * Intussen het die Herald by ‘n familielid verneem dat borgtog aan Jacob toegestaan is.    

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button