As jy nie glo in die waarde van advertensie nie, of dat daar nóg eerlikheid in hierdie wêreld is nie, dan sal hierdie storie jou weer laat dink! Enkele ure nadat die Gazette verlede Donderdag op straat verskyn het met die berig oor die gesteelde bonsais van mnr. Hansie Bekker, is al drie die gesteelde bonsais aan hom terugbesorg. Die bonsai-dief het toe sowaar langs die Parys/Koppies-pad die bome staan en smous.
’n Niksvermoedende verbyganger, Gert Kleynhans, het die pragtige bome gesien, wat teen R600 te koop aangebied is. Hy koop toe die bome, net om kort daarna tot sy skok te lees van die gesteelde bome en te besef dat die boomwinskopie toe inderdaad die bome is waarna gesoek word. Gert het onmiddellik vir Hansie gebel en die drie bome veilig aan hom terugbesorg. Dit wys jou “it pays to advertise!” * Dankie ook aan elkeen wat gehelp het om die berig oor die bome wat op Gazette se webtuiste en Facebookblad was, te deel en te help versprei.




