Maande van inperking het vir sovele bejaardes ongekende eensaamheid gebring met geen besoekers wat by tehuise vir bejaardes toegelaat is weens die risiko van die verspreiding van Covid-19. Maar die uitdagings van die Covid-19 pandemie het ook kreatiewe oplossings genoop soos wat by Sally Martin Park gedoen is om seker te maak inwoners kan wel veilig besoek van hul geliefdes ontvang. Al sien hulle net hul families, is gevind dat dit reeds vir baie bejaardes ‘n groot verskil gemaak het aan hul gemoedstoestand.
‘n Besoekerskamer is daarom in September 2020 geskep waar geen kontakbesoeke toegelaat is. Nadat inperkingsregulasies egter weer oor Desember verskerp is, is die besoeke noodgedwonge gestaak, maar kon die eerste besoeke na verslapping van die inperkingsregulasies weer op Saterdag, 30 Januarie toegelaat word. Die besoekerskamer is vir inwoners van die residensiële fasiliteit en verswakte bejaardes in die kliniek.
Die besoeke word op afspraak gereël. Daar is ‘n perspex-skerm tussen die inwoners en besoekers, en besoekers kom die kamer binne via ‘n buitedeur sodat daar nie deur die residensiële area beweeg word nie. In die besoekerskamer dra kuiergaste sowel as inwoners maskers tydens die besoektyd, en word alle regulasies ten opsigte van sanitering en temperatuurlesing, sowel as aantekenregisters, nagekom. Pakkies wat ontvang word, word eers deur die verpleegpersoneel gesaniteer voor dit oorhandig word.
Inwoners in die wooneenhede op die perseel kan egter steeds in- en uitbeweeg en hul besoekers ontvang soos voorheen met temperatuurlesings en aantekenregisters wat by die ingangshek voltooi word.



