NewsNews

Planne om vervalle Mimosa-oord só te red

Planne om vervalle Mimosa-oord só te red

 

 

Parysenaars sal waarskynlik verheug wees om te weet dat daar uiteindelik werk gemaak word om die vervalle Mimosa vakansieoord weer tot sy eertydse glorie te herstel. Ry jy vandag verby die oord kan jy kwalik glo dat dié skandelike verval eens die trots van Parys was. Opposisie raadslede in die stadsraad stoei al etlike jare daarvoor dat die bedryf van die oord weer geprivatiseer word. Sukses is onlangs behaal toe die raad by sy vergadering in Januarie aanbevelings van die finansiële komitee en uitvoerende komitee aanvaar het dat die projek om die oord weer behoorlik in bedryf te kry, geregistreer word as ‘n moontlike sogenaamde PPP (Public/Private/Partnership). Volgens rdl. Phillip van der Merwe van die VF Plus het die Nasionale Tesourie die projek op 21 Desember 2020 goedgekeur. Twee verdere projekte, die opgradering en herlisensiëring van die Parys-vliegveld en die opgradering van die Uniefeesdam-oord in Heilbron, is terselfdertyd goedgekeur. ’n Senior projekadviseur is ook reeds aangestel om Ngwathe behulpsaam te wees met die wetlike prosesse wat nou moet volg om geskikte vennote te vind om by die projekte te betrek, asook om tegniese advies en bystand te verleen.

“Die proses is tans nog in die aanvangstadium, maar daar is tog lig aan die einde van die tonnel en hoop dat die drie geïdentifiseerde geriewe in die (hopelik) nabye toekoms met betrokkenheid van ‘n ontwikkelingsvennoot weer sal kan herleef tot hul volle glorie soos van ouds,” sê raadslid Van der Merwe. Ook die DA het die voorstel verwelkom. “Ons dorpe het ‘n inspuiting nodig na ons sombere dae tydens die Covid-stryd en ‘n nuwe Mimosa gaan besoekers en beleggers trek.” “Die Mimosa Tuine is tot sowat ‘n dekade gelede met sukses deur privaatondernemers bedryf.

Dit het duisende besoekers gelok, en was ook gewild onder inwoners.

Sedert Ngwathe self volle beheer oorgeneem het, het dit geleidelik verval en is dit tans ‘n finansiële las, sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel. Gazette het in September verlede jaar berig dat met inperking tydens die nasionale ramptoestand, die Mimosa Tuine-saal as tydelike skuiling gebruik is vir die 22 haweloses wat hier versorg moes word. Hoewel dit aanvanklik goed gegaan het, het dit kort voor lank ontaard in ’n nes vir prostitusie, dwelmhandel en misbruik. Na raming het sowat 40 mense in hierdie tyd skielik in die vervalle restaurantgedeelte, bo-op die restaurant se dak, en selfs in die erg verwaarloosde swembad hul intrek geneem. Onderonsies onder van die haweloses het veroorsaak dat van hulle ook van die saal na die restaurant getrek het.

Die skokkende verval by die Mimosa Tuine vakansieoord in Parys. Vroeër jare was die Mimosa restaurant ’n baie gewilde restaurant. Vandag is dit al wat oor is van die vervalle gebou waarin ook haweloses vroeër verlede jaar hul intrek geneem en selfs in die gebou vuur gemaak het.

  Vir diegene wat hulle oor die haweloses moes ontferm met etes, het dit ’n onuithoudbare situasie geword. Skielik was daar soveel meer wat honger was, geen beheer en ’n broeiplek vir onwettige aktiwiteite midde in ’n woongebied. Sedertdien is daar toegangsbeheer by Mimosa ingestel en selfs hengelaars wat jare lank hier gehengel het, word nie meer toegang tot die oord gegee nie. Die hoop is dat die planne wat nou op die tafel is, hopelik iets sal kan laat herleef van die eens gewilde vakansiebestemming vir mense wat van heinde en verre gekom het om die oord te geniet.   Dae toe daar selfs trein- en busroetes na Parys was met uitstappies na die Mimosa Tuine, heerlike pieknieks op die Vaalrivier-oewer, vermaak vir oud en jonk, ’n spogrestaurant, swembad en waterglybaan. Hiervan is nou net ’n skadu oor van wat eens ’n groot inkomste vir die dorp was.  

Related Articles

Back to top button