LetterOpinions

’n Kersnag wat my bybly

Dit is weer dié tyd van die jaar waar daar groot fees gevier word. Elke keer wanneer dit nader kom aan Kersfees en Nuwejaar neem dit my gedagte terug na Kersnag 25 Desember 1962. Dit was twee maande nadat my suster, Kotie, op 14-jarige ouderdom in ’n  motorongeluk van ons weggeneem is. Daardie Feesgety was …

Dit is weer dié tyd van die jaar waar daar groot fees gevier word. Elke keer wanneer dit nader kom aan Kersfees en Nuwejaar neem dit my gedagte terug na Kersnag 25 Desember 1962. Dit was twee maande nadat my suster, Kotie, op 14-jarige ouderdom in ’n  motorongeluk van ons weggeneem is.
Daardie Feesgety was vir ons almal ’n tyd wat ons nooit weer wou beleef nie. Die hartseer en gemis was voelbaar in ons huis in Unitaspark, Vereeniging, en my Pa en Ma was nog besig om van hul beserings van die ongeluk te herstel.
Slegs ons gesin en naaste familie was op Kersnag bymekaar en al was die atmosfeer hartseer en gedemp het my ma, Tannie Nan, en haar susters soos elke jaar vantevore koekies gebak en klein geskenkpakkies net vir die kinders gemaak. Niks “fancy” nie en die pakkies is in bruinpapier toegedraai. Ons het dit met mooi prentjies versier.
In die pakkies was daar lekkergoed en vir ons dogters meestal haarstrikkies of linte. In sommige pakkies was daar kleurkryt en inkleurboekies. Van die mees gesogte geskenkies was die boek met die Papierpoppe (Paper Dolls) en hulle klere, wat alles uitgeknip moes word, en die poppe was aangetrek volgens jou eie modegier. Die ouer dogters het’n  botteltjie Viooltjie Reukwater en ’n  sakdoekie daarby gekry.
Dan was daar ook ʼn pragtige haarborsel of kam of  ’n  mooi handspieëltjie vir die ander niggies.
Die seuns het ook lekkers gekry en daarmee saam ’n  sakkie met albasters of ʼn mooi klein knipmes – soms ʼn pragtige tol of andersins ʼn blik karretjie of trekkertjie.
My Pa, oom Koos, het selfs al vroeër daardie jaar ’n handgemaakte platbak model ossewa vir die jongste kleinseun gemaak.
Die geskenkies is al vroegaand uitgedeel en na die opwinding wag ons vir die ou huishorlosie om die 12 slae om middernag te slaan om Kersdag in te lei en wens ons mekaar ʼn Gesëende Kersfees toe.
ʼn Paar minute nadat ons begin klaarmaak het om te gaan slaap hoor ons die gedreun van ’n voertuig wat naderkom aan ons huis. Ons stap almal uit op die stoep en sien dat daar’n  groot vragmotor met’n  platbak by die voorhek staan.
Agterop die bak sit ʼn hele klompie kinders en van die groter kinders hou lanterns vas om lig mee te gee. ’n  Baie goeie vriend van my Pa klim agter die stuurwiel uit en vra of ons kinders ook kan saamry want almal is welkom en hulle wil Kersliedere by die huise in die woonbuurt gaan sing.
My Pa sê dis reg en ons klim op en gaan sit tussen die ander kinders. Ek let op dat daar ook twee groter seuns is wat met ʼn kitaar en mondfluitjie ons gaan begelei en ons val in met die sing van die eerste Kerslied.
As ek vandag daaraan terug dink wil ek net sê: “Dit was die ongelooflikste aand van my lewe.” Van huis na huis, van straat na straat, en sover as wat ons ry trek daardie ongelooflike “kinderkoor” se liedere ons vooruit.
Ek sal altyd die laaste lied wat ons voor my ouerhuis vir hulle gesing het onthou en met dit saam ook die mooi herinneringe aan my suster.
“Stille Nag, Heilige Nag,
Alles Rus, Eensaam Wag.
Slegs Maria Geseënde Vrou,
By haar kindjie met Josef so trou
Soete Hemelse Rus!
Soete Hemelse Rus!??
Voorspoedig ry en kom veilig tuis vir diegene wat weggaan oor die Kerstyd.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button