News

AGTERSTALLIGE SKULD: MEER TYD

AGTERSTALLIGE SKULD: MEER TYD

Inwoners met agterstallige  munisipale rekeninge in Ngwathe kry  ‘n ekstra maand amnestie.

Só het Ngwathe se munisipale raad verlede Donderdag besluit.  Die amnestie sal nou tot 28 Februarie beskikbaar bly.  Dis  uitgebrei vir boere, wat ook reëlings kan tref vir agterstallige eiendomsbelasting.

Gedurende die amnestietydperk word die helfte van ‘n dorpsverbruiker se agterstallige diensterekenings op versoek afgeskryf mits hy die oorblywende helfte onmiddellik betaal.  Hy moet ook dan sy maandelikse diensterekening  nougeset en ten volle gedurende die daaropvolgende twaalf maande betaal. Sou hy dit nie doen nie verval die voorwaardelike afskrywing,  en die agterstallige skuld is weer ten volle verskuldig.

As iemand die helfte van sy skuld nie op een slag kan betaal nie bestaan daar ‘n alternatief.  Hy kan versoek dat die helfte van sy diensteskuld wat ouer as twee jaar is afgeskryf word.  Hy moet dan ooreenkom om sy totale agterstallige diensteskuld (dws die oorblywende helfte  ouer  as twee jaar, plus alle agterstallige diensteskuld jonger as twee jaar) in 24 gelyke maandelikse paaiemente af te betaal. En hy moet weereens onderneem om sy maandelikse rekening stiptelik en ten volle  tydens die daaropvolgende 12 maande te betaal.

Solank die afbetalingsooreenkoms nagekom word is geen rente op die agterstallige bedrag betaalbaar nie.  Sou die verbruiker egter enige voorwaarde verbreek, word die afskrywings gekanselleer, en hy skuld weer die volle bedrag, met rente ook.

“Februarie is die laaste kans vir afslag,” sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel. “Vanaf 1 Maart gaan Ngwathe onmiddellik sterk optree teen agterstalliges.”  Hy sê optrede is nodig, want die munisipaliteit se geldsake bly beroerd.

 

Related Articles

Back to top button