News galleriesPhoto Galleries

Perderuiters vra vir bewaring van monumente en erfenisterreine

Vyf perderuiters wat tans besig is met ’n herdenkingsrit oor 19 dae om die fokus te plaas op die bewaring van monumente en erfenisterreine, het verlede week op Parys aangedoen vir ’n optrede van die bekende Country-sanger, Jason Bradley. Die rit het die 28ste November by die Voortrekker-monument in Pretoria begin en sal op 16 …

Vyf perderuiters wat tans besig is met ’n herdenkingsrit oor 19 dae om die fokus te plaas op die bewaring van monumente en erfenisterreine, het verlede week op Parys aangedoen vir ’n optrede van die bekende Country-sanger, Jason Bradley.
Die rit het die 28ste November by die Voortrekker-monument in Pretoria begin en sal op 16 Desember by die Vrouemonument in Bloemfontein eindig.
Die ruiters, van wie 3 vroue is, is Johann Nell (Rustenburg), Theunis van Staden (Pretoria), Fiona van Staden (Pretoria), Bea Hildebrandt (Pretoria) en Leonie Neilson (Rustenburg).
Die eerste herdenkingsrit is in 2012 gedoen toe daar van die Voortrekkermonument na Bloedrivier gery is.
Met vanjaar se rit is daar die eerste 2 dae gery tot by die Paardekraal-monument in Krugersdorp en vandaar tot by die Danie Theron-monument in Fochville, voordat op Parys gestop is.
Van Parys af sou daar oor 2 dae na Koppies gery word tot by die Rooiwal Stasie waar die Slag van Rooiwal plaasgevind word. Daarna volg die roete oor Kroonstand na die konsentrasiekamp en Sarel Cilliers-monument, Hennenman, Winburg, Brandfort en laaste Bloemfontein waar die groep op 15 Desember arriveer.
Die groep sê dat hulle die boodskap uitdra dat daar ’n  plek vir almal se geskiedenis in elke kultuur en entiteit is en dat mense bemoeienis moet maak met die bewaring van kultuurhistoriese erfenis.
Die herdenkingsrit word ondersteun deur onder meer AfriForum, die FAK en Tau Meule.
Met die vorige rit in 2012 is baie geleer met dié dat daar toe stadiger gery is en minder tyd was vir die perde om te rus tussenin. Vanjaar word dit anders gedoen met gemiddeld tussen 35 en 40km per dag wat afgelê word teen ’n  vinniger spoed om die perde genoeg rus te gee voor die volgende skof gery word.
’n  Lied van Jason Bradley, “Dirt Roads” is dan die temalied vir die 2015 Herdenkingsrit.
Naas die afskeidsfunksie met die groep se vertrek by die Voortrekkermonument, is ’n  kerkdiens ook by Paardekraal gehou en ’n  ope-dag op Parys toe belangstellende perderuiters Donderdagoggend vanaf Parys kon saamry om die groep af te sien. ’n  Kranslegging sal dan ook op die 16de Desember by die Vrouemonument in Bloemfontein gehou word.
Mense is welkom om die groep se herdenkingsrit op hul Facebook blad te volg. Die rit word ook gedagboek deur die bekende skrywer Juliet Whelpton.
Die groep het in ’n  onderhoud Woensdagaand met Gazette gesê dat hulle soveel gasvryheid van mense met die rit ervaar en ’n hunkering en trots by mense om erkenning vir hul geskiedenis te behou.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button