NewsNews

Held swem in boulevard om mense te red

Held swem in boulevard om mense te red

 

 

Tydens die storm van 14 Januarie 2021 het ‘n drama in Vanderbijlpark afgespeel. Vaalweekblad het met die man gaan gesels wat in die reën moes swem in Andries Potgieter-boulevard om ‘n bussie vol mense te red.

 

VANDERBIJLPARK. – Thabee Nyako en haar kollegas het Donderdag, 14 Januarie soos gewoonlik in die werksbussie geklim wat hul moes huis toe neem. Donker wolke het oor Vanderbijlpark saamgepak. Toe begin dit reën. Party sê dit was ‘n wolkbreuk. Hard en aanhoudend. Water het oor die paaie begin stroom. Die slaggate is eerste opgevul. Die bussie het ‘n gat getref en in die steeds stygende water tot stilstand gekom. Binne die bussie het Thabee en haar kollegas hulpeloos gekyk hoe die water styg en Andries Potgieter-boulevard in ‘n rivier omskep word. Op daardie tydstip het Shane Pretorius verbygery. Agter sy bakkie was ‘n sleepwa wat hy by sy oom moes gaan afhaak. Hy het die hulpkrete gehoor en vir Johan Strydom, beter bekend as Oom Bossie, gebel. Johan, die bestuurder van ‘n insleeptrok, was eerste op die toneel. Nico Radebe het op sy hakke met sy bakkie gestop. Hul eerste stap was om die pad af te sper.

Die Drie Musketeers, Johan Strydom, Nico Radebe en Shane Pretorius wat saam gewerk het om die bussie vol mense na veiligheid te sleep. Foto: Verskaf

Shane het intussen die sleepwa afgehaak en is terug na die toneel. “Die mense in die bussie het om hulp geroep en geskree dat hulle nie kon uitkom nie. Die water was te diep,” onthou hy. Johan en Nico het agter op Johan se bakkie gaan staan en die wen-as beheer. Shane is in die gietende reën die water in met die kabel in sy hand om die bussie te gaan koppel. “Die water het tot by my bobene gekom. Ek wou eers hardloop, maar die stroom was te sterk, toe swem ek maar tot by die bussie,” beduie hy. Shane het die bussie met die wen-as se kabel gekoppel en die bussie is so na veiligheid gesleep. Oor sy heldedaad het Shane net gelag. “Dis my passie om mense te help,” het hy gesê.

 
Shane op sy tog terug na die bakkie. Die foto is vanuit die bussie deur Thabee Nyako geneem en op haar Facebook-profiel geplaas. Foto: Facebook

Thabee Nyako het later die dag op haar Facebook-profiel gesê dit het vir haar gevoel asof hulle ‘n ewigheid in die stygende water vasgevang was. Baie mense het net verby hulle gery en selfs foto’s en video’s geneem, sonder om te probeer help. Sy was baie dankbaar teenoor die barmhartige samaritaan wat hul gehelp het. Sy het onder meer geskryf: “… (he) got into the freezing water half naked, swam closer to the taxi to tie the tow belt on the taxi and slowly, but surely, towed us to safety. Really wish more South Africans were like you. Sacrificed his time, petrol, risked his own life, to save working moms…”

 
https://vaalweekblad.com/84750/held-swem-in-boulevard-om-mense-te-red/
 

     

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button