NewsNews

Só skryf ons skoolhoofde oor die 2021-skooljaar

Só skryf ons skoolhoofde oor die 2021-skooljaar

  Vir baie ouers en leerders mag die aankondiging van skole wat nou eers op 15 Februarie heropen, dalk met vrae laat oor hoe dié besluit die skooljaar sal beïnvloed so kort ná die onsekere 2020 skooljaar. Gazette het daarom met die skoolhoofde van Parys Primêr en Hoërskool Parys gesels. Hier is die boodskap van die onderskeie skole se skoolhoofde:

“Gesondheid en veiligheid van almal bly prioriteit”    

 

Mnr. Lucien van Zyl, skoolhoof van Hoërskool Parys skryf:

“Die Departement van Basiese Onderwys het op 15 Januarie vanjaar die hersiene datums vir die terugkeer na die skool vir die 2021 akademiese jaar bekendgemaak. Die bestuurspan sal op 25 Januarie aanmeld, en die res van die onderwyspersoneel op 1 Februarie. Leerders begin op 15 Februarie met onderrig. Ons voorsien dat die graad 12-leerders elke dag, en grade 8 tot 11 weer afwisselend elke tweede dag sal aanmeld vir skool omdat die 50% van leerderkapasiteit per skooldag nog steeds van toepassing is. Die reëling van watter grade (8 tot 11) op watter dae sal aanmeld sal sodra dit uitgeklaar is, met die ouers en leerders gekommunikeer word. Aanlyn klasse vir die dae wat die leerders nie by die skool is nie sal voortgaan soos wat verlede jaar van toepassing was. Die Departement van Onderwys in samewerking met die Beheerliggaam van die skool het ‘n aantal algemene skool assistente en onderwys assistente aangestel tot einde Maart 2021. Hulle sal behulpsaam wees met dienste soos sanitasie, toepassing van die Covid-protokol en onderwyshulp.

Ouers, leerders en skoolpersoneel kan dus verseker wees dat daar vanaf die Departement van Onderwys en die Beheerliggaam van die skool se kant baie gedoen word om die gesondheid en veiligheid van al die mense op die skoolterrein as eerste prioriteit te stel. Ons wil graag beklemtoon dat elke persoon ‘n daadwerklike poging moet aanwend om sy eie gesondheid te bestuur en verantwoordelikheid daarvoor te neem. Die verwagting van die skool is dat elke leerder ‘n volwasse en positiewe gesindheid in die verband sal openbaar. Die skool en onderwyspersoneel is nog in afwagting vir die ontvangs van die hersiene onderrigplanne vir die jaar (ATP’s=Annual Teaching Plans) waarvolgens die vakonderwysers hulle onderrig vir die akademiese jaar sal beplan. Die Hoërskool Parys is egter baie opgewonde om die leerders terug te verwelkom. Die onderwysers sien uit daarna om hulle in die klaskamers te ontvang vir die akademiese program. Ons sal alles moontlik doen om die “verlore” agterstallige akademiese werk in te haal soos bepaal in die “ATP”.

Die skool beskik oor toegewyde onderwysers wat die kinders sal ondersteun en van hulp sal wees met hulle akademie, en glo dat elke kind dieselfde positiewe gesindheid sal openbaar teenoor hul skoolwerk. Ons wens al ons leerlinge baie sterkte toe en vertrou dat hulle almal sukses sal behaal met hulle akademie aan die einde van die jaar.

“2020 het ons geleer om nie oorhaastige besluite te neem nie.”      

 

 Mnr. Shaun Strydom, skoolhoof van Parys Primêr skryf:

U sal saamstem dat 2021 nie heeltemaal afgeskop het soos ons gehoop het dit sou nie! Met die Departement van Basiese Onderwys se onlangse aankondiging dat die heropening van skole uitgestel is tot 15 Februarie, is daar sekerlik baie ouers wat bekommerd is oor wat die jaar vir hul kinders gaan inhou. Hoewel die personeel net so hartseer hieroor is soos meeste ouers, wil ons u egter verseker dat die Primêre Skool Parys meer as gerat is om vir ons leerders ‘n baken van hoop in hierdie onseker en ontwrigtende tyd te wees! Die bestuur van die skool sal in die volgende week deeglik besin oor die weg vorentoe, nadat daar met belanghebbendes in die onderwyssektor gekonsulteer is. Ons sal dan, soos die gewoonte is, deeglik en duidelik aan ouers kommunikeer wat ons plan van aksie is.

As daar een les is wat ons geleer het in 2020, is dat ons nie oorhaastige besluite moet neem nie, en daarom vra ons ouers se geduld in hierdie verband. Dit is vir ons as skool van uiterste belang dat alle besluite wat geneem word tot voordeel en in belang van al ons kinders sal wees. Intussen vra ons ouers wat nog nie op die volgende platforms aangesluit het nie, om dit asseblief te doen aangesien dit kommunikasie tussen die skool en ouerhuis drasties verbeter: Facebookblad: https://www.facebook.com/parysprimer D6: https://d6.co.za/education/downloads/

Ons het absolute begrip vir die moeilike situasie waarin die grendeltydperk baie huishoudings plaas, en herinner u graag aan die volgende wenke wat behoort te help om kinderbreine skerp te hou in die tyd wat voorlê:

* Handhaaf roetine. Dit is alom bekend dat roetine en dissipline hand-aan-hand loop

* Gee vir u kind genoeg liefde sodat hy / sy veilig, geliefd en beskermd sy / haar nuwe skooljaar kan begin

* Gesels gereeld en luister na u kind. Sodoende leer hy / sy om te kommunikeer en word u meer wys oor sy / haar drome, belangstellings en vrese

* Skep tyd om saam met u kind te lees / skep tyd waar hulle moet lees. Boeke prikkel kinders se leeslus en verbeter hul woordeskat. Ons dorp het oulike openbare sowel as private biblioteke.

Alhoewel 2020 ‘n uiters uitdagende jaar was het ons steeds daarvan ‘n sukses gemaak te danke aan goeie samewerking tussen die huis en die skool. Dit is om hierdie rede dat ons nie sal toelaat dat 2021 vir ons ore aansit nie! U kan enige navrae rig aan hoof@parysprim.co.za”  

Related Articles

Back to top button