News

Vredefort se onthou in ’n fotoreis vertel

Vredefort se onthou in ’n fotoreis vertel

   

 

“Toe Eskom nog gesukkel het om te besluit, het die boeregemeenskap van Vredefort onder leiding van wyle Dirk Steenkamp, self hul eie kraglyn gebou. Dit nadat daar uiteindelik in 1980 toestemming van die Elektrisiteits Beheerraad gekry is.” “Aanvanklik sou die lyn 76km lank wees van Vredefort se munisipale-substasie tot op die verste plaas. Daar sou 38 transformators wees – ‘n eerste in Suid-Afrika.”

“Uiteindelik was die lyn 142km lank met 72 transformators en het soortgelyke projekte kort daarna in Heilbron, Petrus Steyn en Reddersburg gevolg.”

Vandag ken baie Vredefort as net nog ‘n klein plattelandse dorpie. Noord van Parys. Die dorp waarna die wêreldbekende Vredefort Koepel vernoem is.

Maar daar was ’n tyd toe ossewaens, perdekarre, stropers en dorsmasjiene hier gebou is. Toe boere van so ver as Heilbron gekom het om meel hier te kom maal. Toe daar vyf kafees was wat etes voorsien het, en jy hier ’n nuwe Ford, Chevrolet, Nash, Jeep en later selfs ook Toyota kon koop.

’n Tyd toe die eerste goud in die Vrystaat in die Vredefort-distrik ontdek en gemyn is. Toe groot name soos genl. De Wet en Sarel Cilliers hier by die kerk betrokke was, en Gordon Tomlinson wat saam met ander ‘n belangrike rol gespeel het in die Tweede Taalbeweging, ‘n aantal jare in die dorp gewoon het. So ook prof. T.T. Cloete, bekroonde digter en letterkundige wat die eerste 16 jaar van sy lewe in Vredefort deurgebring het, en die skrywer Alba Bouwer wat in die omgewing gebore is.

Dit is ‘n dorp wat meer te vertel het as die verval wat jy nou sien wanneer jy deur die dorp ry. Dit is ‘n dorp met ‘n ryk geskiedenis sedert die eerste Voortrekkers in 1836 hulle hier gevestig het in die glorieryke vyftigerjare.

Wie beter om hierdie verhaal van ’n dorp en sy mense te vertel as Johannes Maree wat in 1939 in sy oupa se ‘nagmaal huis’ in Vredefort gebore is. ’n Man wie se paaie hom van ’n joernalistieke agtergrond tot die begin van ‘n beskeie drukkery in sy ruim buitekamer op die plaas gelei het. ‘n Man wat ’n unieke biblioteek van etlike duisende boeke en Afrikana oor jare opgebou het. Met sy lang en noue betrokkenheid by die gemeenskap van Vredefort, het die pennevrug oor sy geboortedorp gestalte gekry met ‘n ongelooflike bydrae tot die Afrikaanse kultuurgeskiedenis onder die titel, “Toeka se dae in Vredefort”.

 

   Dit deel met die leser ‘n leeftyd se ervarings en gebeurtenisse in Vredefort. Laat jou die dorp se ontstaangeskiedenis beleef sedert die Voortrekkers die eerste ploegvoor getrek het, en die eerste grashuise gebou het. Tereg skryf prof. Sybrand Strauss in sy voorwoord-opmerking dat enigiemand wat wil weet hoe die lewe op ’n Afrikaanse plattelandse dorp en distrik min of meer ’n halfeeu gelede gelyk het, in hierdie boek ’n waardevolle en onmisbare bron van inligting sal vind.

Die gemaklike skryftrant is ‘n hartsverhaal van die mense wat Vredefort help vorm het. Van die groei en opbou van ’n dorp en sy mense. ’n Fotoreis met 230 foto’s en 250 artikels wat enigeen wat ’n band het met Vredefort weer helder sal laat onthou soos jy deur die bladsye blaai.

“Toeka se dae in Vredefort’ is in Vredefort beskikbaar by Boerefort tel. (056) 9310 117, JSM Plastiek (056) 9310 627, Elna Zaaiman 074 340 5504 en in Parys by Oppie Hoek 083 564 3807. Johannes Maree kan geskakel word by 082 800 6956. * Johannes en Susan Maree is steeds gevestig op die geboorteplaas, Mynrust in die Vredefort-distrik.  

Related Articles

Back to top button