NewsNews

Polisie tree strenger op teen grondgrypers

Polisie tree strenger op teen grondgrypers

 
Potchefstroom – Die polisie en sekuriteitspersoneel van die JB Marks munisipaliteit sal verhoed dat onwettige betreders nie verder die staatsgrond in die Mooibankdistrik beset nie.
 Só is gister  (Donderdag, 14 Januarie) amptelik op ʼn vergadering besluit nadat bekommerde partye ʼn dringende vergadering belê het.
 
Hulle doel was om die chaotiese toestand te stabiliseer omdat al hoe meer onwettige besetters Woensdag en Donderdagoggend met boumateriaal opgedaag het om hulleself erwe toe-eien en strukture op te rig.
 
Verteenwoordigers van die SAPD, die gemeenskapspolisiëringsforums en regsspanne van die Departement van Landbou en die JB Marks munisipaliteit, die DA en VF+ het onder meer die vergadering bygewoon.   Advokate van die Departement van Landbou, aan wie die grond behoort, asook die JB Marks munisipaliteit sal more in die Hooggeregshof van Mmabatho ʼn interdik probeer bekom om mense amptelik te verbied om die grond verder te betree.
 
Dié hofbevel is ʼn regsdokument wat die polisie die reg gee om mense te arresteer wat die hofbevel verontagsaam.
 
Hans-Jurie Moolman, DA raadslid wat die vergadering bygewoon het, sê ʼn afsonderlike regsaksie word hierna geloods om ʼn uitsettingsbevel te kry wat toestemming sal gee om mense van die grond af te sit. Volgens die wet word die polisie verbied om besetters wat reeds strukture opgerig het, van die grond te verwyder. “Eers nadat ʼn uitsettingsbevel verkry is, mag die balju die besetters verwyder wat nie uit vrye wil die area wil verlaat nie, sê Moolman. Die polisie mag slegs verhoed dat mense verder die grond betree om strukture op te rig. Volgens Moolman het die polisie hulle verseker dat hulle dadelik sal toetree en die toegangsroetes blok om te verhoed dat nog mense die area beset.
 
Hulle sal sover gaan om selfs die mense te arresteer. Die area wat onwettig beset is, is suid van Viljoenstraat langs ʼn grondpad sowat 1km van Paws se indraai geleë. Na bewering het ANC-wyksraadslede uitnodigings aan mense gerig om die area te beset. Moolman het verder gesê dat hy ʼn klag van bedrog en dwarsboming van die gereg by die polisie gelê het om die persone wat die grondinnames georkestreer het vas te vat. Fanie du Toit, ondervoorsitter van die VF+ in die Noordwes provinsie, doen ʼn beroep op die publiek om kalm te bly en toe te laat dat die reg sy gang gaan. “Ons vra ook dat mense wat nie in die omgewing woon nie asseblief nie die area besoek nie.”

 

 
 
 
 
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button