Plaaslike ontwerpers maak naam by kroning van wêreld se mooiste
Die beeldskone Riana Mooi, uittredende Mrs. Globe, gaan vir oulaas haar land trots maak wanneer sy in ’n prentjiemooi skepping van Parys-ontwerper, Michael Bezuidenhout van Michael Bezuidenhout Couture, die kroon aan haar opvolger in Shenzhen, China gaan oorhandig. Naas Riana sal ook die huidige Mev. Suid-Afrika, Candice Abrahams, haar land verteenwoordig as deelnemer aan die …
Die beeldskone Riana Mooi, uittredende Mrs. Globe, gaan vir oulaas haar land trots maak wanneer sy in ’n prentjiemooi skepping van Parys-ontwerper, Michael Bezuidenhout van Michael Bezuidenhout Couture, die kroon aan haar opvolger in Shenzhen, China gaan oorhandig.
Naas Riana sal ook die huidige Mev. Suid-Afrika, Candice Abrahams, haar land verteenwoordig as deelnemer aan die kompetisie in ’n skepping van nog ’n plaaslike ontwerper van die dorp, Werner Dey.
Riana is op 4 Desember verlede jaar as die wêreld se heel mooiste mevrou gekroon.
Riana het met kinderlike opgewondenheid kort voor haar vertrek gesels oor die helderkleurige rok met ’n driedimensionele ontwerp van blomme op ’n swart agtergrond wat haar grootste verwagtinge oortref het. Vir haar was die rok ’n ongelooflike verrassing.
Michael het “Africa meets Asia” as tema vir die rok gekies.
Die kleurvolheid, styl en prag van die aandrok versinnebeeld vir hom die mooi wat Riana as mens in haar kroningsjaar uitgestraal het, maar ook die kleurvolheid van die mense van Asië.
Boonop verteenwoordig dit nie net Suid-Afrika as land nie, maar ook dié land as die mooiste in Afrika. Riana het die rok verlede week by Oac Fields ontvang tydens ’n funksie van die De Beers groep vir wie sy vir vyf jaar ambassadeur is.


