News

Hier is wat jy moet weet oor die WhatsApp-herrie

Hier is wat jy moet weet oor die WhatsApp-herrie

 

Dink maar aan hoeveel WhatsApp huiswerk en skoolgroepe, sportgroepe, groepe met jou werkskollegas, familie en vriende is jy deel van? As daar verjaardag gehou gaan word, ‘n troue of kuiergeleentheid is die eerste stap dikwels ‘n WhatsApp groepie wat geskep word. Talle veiligheids- en buurtwaggroepe gebruik WhatsApp. Inligting word gedeel, daar word land en sand geklets, gekoop en verkoop, raad gedeel, met duisende mense wat van die boodskapdiens gebruik maak. Maar deesdae lig die wenkbrou oor die veiligheid van die boodskapdiens met nuwe bepalings en voorwaardes waartoe ingestem moet word voor 8 Februarie.

Stem jy nie in nie, sal jy nie meer van die diens gebruik kan maak nie. Ten spyte daarvan dat die diens vir baie so ‘n deel van hul alledaagse lewens geword het waarsonder jy jou kwalik kan indink, het die vrees vir wat die bepalings en voorwaardes wat terloops nie baie duidelik uiteengesit is, vir jou sal inhou as gebruiker nie, ‘n vloed van gebruikers na die boodskapdienste Telegram, en ook Signal veroorsaak. Volgens prof Basie van Solms, ‘n kundige op dié gebied van tegnologie en direkteur van die Universiteit van Johannesburg se sentrum vir kuberveiligheid, beteken die instem van die voorwaardes en bepalings in kort dat van jou persoonlike data wyer gedeel gaan word met Facebook aan wie die WhatsApp boodskapdiens behoort. Prof. Van Solms sê dat in beginsel raak die nuwe bepalings en voorwaardes nie die sekerheid en veiligheid van jou WhatsApp boodskap-inhoud nie met net die sender en ontvanger wat die inhoud van boodskappe kan sien en verstaan weens end-tot-end-enkripsie.

Tog is daar die risiko dat die inhoud van boodskappe tog by ongemagtigde persone kan uitkom, maar is dié aspek nie relevant tot die nuwe bepalings en voorwaardes nie. Die nuwe bepalings maak dit egter moontlik dat jou inligting soos jou telefoonnommer, geografiese ligging (rekenaaradres) ens.  meer gedeel kan word met Facebook, WhatsApp, en moontlik ook derdeparty-maatskappye. Dit is egter nog nie seker of jou kontaklys ook gedeel sal word nie. Hoewel dit nou lyk of daar nie ‘n onmiddellike drastiese impak op gebruikers sal wees sou jy die voorwaardes aanvaar nie, word die platform wel geskep vir Facebook om veranderings aan WhatsApp aan te bring in die toekoms, veral wat bamarking met direkte advertensies betref. Dink maar net aan wanneer jy na iets op Google soek. Kort voor lank verskyn daar kort-kort advertensies oor die produk waarna jy gesoek het op jou rekenaarskerm. Verbeel jou dat dieselfde produk dan ook op jou WhatsApp diens verskyn met advertensies tussen jou boodskappe en dat jou vriende bes moontlik dan ook daardie advertensies kan ontvang. Veral vir maatskappy kan dit probleme inhou

Op die einde van die dag bly dit egter jou keuse waartoe jy bereid is om toestemming te gee en is daar altyd die veiligheidsrisiko wat jy loop as jy die kuberruim gebruik, want geen data wat jy deel is ooit werklik veilig nie. Doen daarom jou eie navorsing, wees ingelig en neem dan jou eie besluite op grond van jou eie navorsing.  

Related Articles

Back to top button