NewsNews

Potchefstromer wen gesogte toekenning vir welsynswerk

Potchefstromer wen gesogte toekenning vir welsynswerk

‘n Maand gelede het Janet Potgieter die CEO Pan African Most influential Women in Business and Government Life Time Achievers Award vir haar volgehoue welsynswerk in Afrika en spesifiek in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) ontvang.

‘n Besondere toekenning omdat deelnemers nie self vir die toekenning kan inskryf nie. Hulle word genomineer en volgens hulle portfolio beoordeel.

Dié toekenning is gemaak op grond van twee vorige toekennings wat Janet in 2018 ontvang het – The CEO Global Pan African Country Award (DRC) en die Regional Award (Central Africa) for Most Influential Women in Business and Government. Dié toekennings het haar later laat deurdring na die finale toekenningseremonie waar sy as die algehele wenner in die kategorie: “Welsyn en burgerlike samelewing” aangewys is.

“Dit was twee ongelooflike geleenthede, veral toe ek die algehele toekenning gewen het,” sê Janet wat verduidelik dat die Life Time Achievers Award gewoonlik vir mense gegee word wat reeds gewen het en dan met hul welsynswerk voortgaan. Beoordelaars hou vorige wenners veral op sosiale media dop.

 

Vir Janet is hierdie ‘n bittersoet oomblik omdat sy vir haar welsynswerk vereer is, maar sy het terselfdertyd ook slegte nuus ontvang dat haar beskermheer in die DRK, Dries Coetzee, tans teen kanker veg. “Ek is dankbaar omdat die werk wat ons gedoen het raakgesien is en hopelik inspireer dit ander om ook ‘n verskil te maak. Ongelukkig is Dries in Duitsland besig om die grootste geveg van sy lewe teen kanker te veg. Ons projekte het tot ‘n halt gekom en die toekoms hang nou van Dries se gesondheid af. Ek kan nie sonder hom daar aangaan nie. Ek het hierdie toekenning aan hom opgedra, want sonder hom was niks van my DRK-ervaring moontlik nie,” sê Janet.

Tydens haar besoeke aan die DRK was sy heeltyd onder Dries se sekuriteitsmaatskappy, Latlong International, se beskerming. “Die DRC is nie ‘n vakansie ‘destination’ nie, dit is baie gevaarlik en sonder hom sou ek nie daar ‘n verskil kon maak nie.”

Janet het vir die eerste keer in Augustus 2014 die DRK besoek net nadat sy as Mrs Africa gekroon is. “Ek was die eerste keer na Goma, Noord Kivu, aan die ooste van die DRK en met my laaste besoek in 2018 het Ebola daar uitgebreek,” vertel sy.

Sy was in totaal ses keer daar, elke keer vir sowat twee weke. Haar ervaring in die DRK het haar lewe verander. “Dit is ‘n land van teenstrydighede, aan die een kant die baie hartseer van die burgeroorlog en aan die ander kant die asemrowende mooi natuurskoon.” Volgens Janet het ons geen idee wat dit is om in ‘n oorloggeteisterde land te oorleef nie. “Ek het 12-jarige dogtertjies gesien wat verkrag is en dan hulle babas het. Ons het nog so baie om voor dankbaar te wees hier. Ek is genooi om te kyk of ek ‘n verskil kan maak daar, wat eintlik nie moeilik is nie, want enige iets wat jy doen, maak ‘n verskil.”

Janet Potgieter by kinders van ‘n vlugtelingkamp. Foto: Verskaf

Sy vertel dat dit moeilik is om goedere in die land te vat, maar dat hulle altyd plan gemaak het. “Ons het wasbare sanitêre doekies en broekies, medikasie soos panado, pleisters, salf, opvoedkundige materiaal, lekkergoed, klere en skoene en veral groentesaad ingevat,” vertel sy. Hulle het twee kinderhuise ondersteun, asook ‘n projek aangepak wat spesifiek vrouens ondersteun omdat hulle die mees weerlose is. “Daar is weinig regeringshulp en almal is maar op hulself aangewese.”

Deel van haar projekte was die operasies wat hulle vir mense gereël het wat ‘n endemiese skildklier kondisie gehad het. In totaal het hulle ses vrouens en een man laat opereer met fondse wat hulle van Latlong International en Suid-Afrikaanse weldoeners ontvang het.

“Ek het my hart in die DRK verloor en het soveel respek vir die Kongolese se deursettingsvermoë en hoe hulle ten spyte van bitter moeilike omstandighede, tog ‘n lewe maak.” In die Bulengo vlugtelingkamp het Janet 42 000 vlugtelinge gesien en ses vrouens ontmoet wat verkrag is. Hulle huise en dorpies is afgebrand en van hulle kinders en mans is voor hulle vermoor. Tog het hulle, ten spyte van hulle haglike omstandighede, hulself beskikbaar gestel om deur die International Rescue Committee as beraders opgelei te word om ander vrouens deur hulle trauma te help.

Met haar tweede besoek aan Bulengo het sy uitgevind dat elkeen van dié vrouens hul eie besigheid gehad het. “Daar het ek besef ons moet die sterk vrouens in gemeenskappe identifiseer en hulle ophef, dan sal die hele gemeenskap voordeel trek. “Ek het ook besef ons moenie die seuns en mans verwaarloos nie. Daar het ek myself verbind om ‘n daadwerklike verskil in mense se lewens te maak.”

Met ‘n pa wat ‘n predikant in die Hervormde Kerk was, het Janet van kleins af geleer om vir ander om te gee. Hoewel sy nie nou meer sonder Dries in die DRK kan werk nie, sal sy nooit ophou omgee nie. “Vir nou is ek terug in Potch en fokus ek op my welsynswerk hier,” sê sy.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button